Die Hoërskool Paarl Gimnasium se eerste meisieshokkiespan eindig hul seisoen in die nommer een posisie op die [nie-amptelike] skolehokkieranglys vir meisies nadat hulle Saterdag 9 Augustus die gesogte Fairtree top-12-hokkietoernooi gewen het.

Dit kom nadat hulle 4-1 met die Hoër Meisieskool Bloemhof in die eindronde van die toernooi in Bloemfontein afgereken het.
Gimnasium se Alanda Rademeyer, voorspeler, het twee van die vier doele vir haar span aangeteken. Die ander twee doele is deur spanmaats Marili Walters en Imke Koegelenberg aangeteken. Rademeyer is ook aangewys as die speler van die toernooi, beste voorspeler en top doelskieter, berig Supersport Schools Plus.
Die jongste sege kom net ‘n week nadat die span ook die hoogsaangeskrewe jaarlikse Interskole-kragmeting teen die Hoër Meisieskool Paarl met 4-1 beklink het.
Gimnasium se eerste seunshokkiespan het op hul beurt ‘n tweede plek by die o.18 Guschkie topskole-toernooi behaal nadat hulle ná ‘n naelbyt-stryd die knie 1-2 moes buig teen die Grey Kollege Bloemfontein. Juan Swanepoel is as die beste doelskieter van die toernooi aangewys terwyl die span se afrigter Jacques Grobler, met die eerbewys as die afrigter van die toernooi weggestap het.
Vir meer hieroor kyk uit vir Paarl Post se gedrukte uitgawe wat op Donderdag 14 Augustus verskyn. Die e-koerant sal op Maandag 18 Augustus aanlyn by paarlpost.co.za te lees wees.






You must be logged in to post a comment.