Hermin Bron
Hermin Bron (32). Foto: Hermin Bron/ Facebook

BARRYDALE – Die gemeenskap van Barrydale en die plaaslike rugbywêreld is in rou ná die skielike afsterwe van Hermin Bron (32), ’n toegewyde speler van die Barrydale Flying Eagles-rugbyklub.

Bron is op 27 Maart oorlede en was ’n oud-leerder van Hoërskool Barrydale waar hy direk ná matriek by die klub aangesluit en vir ongeveer 13 jaar lank ’n lojale en toegewyde lid was, volgens Herschelle Swart, sekretaris van die klub.

Swart sê Bron het gedurende sy rugbyloopbaan hoofsaaklik as vleuel uitgedraf, maar is later ook as flank ingespan.

“Sy veelsydigheid, harde werk en toewyding was duidelik sigbaar op die veld,” het Swart gesê.

Hermin Bron
Hermin Bron (32) met sy Flying Eagles-rugbytrui. Foto: Barrydale Flying Eagles RFC/ Facebook

Op die dag van sy afsterwe het Bron nog vir die klub uitgedraf in ‘n wedstryd teen die Young Turbos-rugbyklub van Montagu wat die Flying Eagles met 14-10 gewen het.

“Hy het aan ’n wedstryd deelgeneem en is ná die wedstryd oorlede. Dit was ’n oorwinning vir die Flying Eagles, en hy het letterlik sy alles op die veld gegee tot die einde toe as ’n trotse speler,” het Swart bygevoeg.

Die presiese oorsaak van dood moet nog deur ’n forensiese ondersoek bevestig word, maar voorlopige inligting dui daarop dat hy moontlik aan ’n hartaanval oorlede is, volgens Swart.

Swart het Bron beskryf as ’n speler met ’n sterk werksetiek, ’n groot hart en onwrikbare lojaliteit. “Buiten sy prestasies op die veld, was hy ’n vriendelike en respekvolle mens wat altyd ’n positiewe atmosfeer in die span geskep het. Hy was geliefd onder spanmaats en in die gemeenskap.”

Volgens Swart laat Bron ’n nalatenskap van toewyding, nederigheid en trots agter.

“Hy het altyd sy span eerste gestel en was ’n voorbeeld van wat dit beteken om met hart en trots vir jou klub te speel.”

Bron, wat in Barrydale grootgeword het, is op 4 April ter ruste gelê, luidens ‘n Facebook-plasing van die Flying Eagles-rugbyklub.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article