GQEBERHA – AfriForum se Dink of Sink-span het Woensdag die eerste van ses provinsiale uitdunrondtes vir hoërskooldebatteerders by Hoërskool Framesby in die Oos-Kaap aangebied.
Die Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie vir hoërskoolleerders gee aan belowende jong debatteerders die kans om hul vaardighede op die proef te stel.
AfriForum vier vanjaar 10 jaar sedert hy by die onvoorbereidedebatskompetisie betrokke geraak het.

Die doel van die kompetisie is om Afrikaanse debatkuns op laerskool-, hoërskool- en universiteitsvlak te bevorder en terselfdertyd ’n noodsaaklike vaardigheid by leerders aan te leer wat hulle in hul toekomstige beroepslewe sal bevoordeel.
Altesaam 72 leerders van ses hoërskole in die Oos-Kaap het aan dié uitdunrondte deelgeneem.
Die deelnemende skole was Hoërskool Framesby, Hoërskool Nico Malan, Hoërskool DF Malherbe, Hoërskool Despatch, Hoërskool Otto du Plessis en Chatty Sekondêre Skool.
Gedurende die dag het die 24 spanne elk drie debatte gevoer oor verskeie aktuele onderwerpe in hul verwysingsraamwerk.

“Die leerders het hulself uitstekend van hul taak gekwyt deur goed voorbereide en logies argumente en teenargumente te voer. Hul selfvertroue was ook duidelik sigbaar in hul lyftaal, stemgebruik en passievolle oortuiging van hul standpunte. Dit het duidelik hul debatvaardigheid en kritiese denkvermoë beklemtoon,” sê Nicolene Müller, AfriForum se koördineerder vir Onderwys in die Suidstreek.
Hoërskool Framesby (span 2) se Danté Fourie, Bernard Janse van Rensburg en GJ Roelofse was as die wenners in die junior kategorie aangekondig terwyl Hoërskool Framesby (span 5) se Kihara du Preez, Karla Müller en Leané Els as die naaswenners gekroon is.
In die senior kategorie het Hoërskool Framesby (span 3) se Micaela Potgieter, Matthys Potgieter en Therese Otto koning gekraai terwyl Hoërskool Framesby (span 2) se Jemima Oosthuizen, Minette van Zyl en Jani van Heerden as die naaswenners aangewys is.

“Die hoërskooldebatspanne het ’n merkwaardige vlak van openbare spreekkuns en kritiese denke ten toon gestel. Ons sien met groot entoesiasme uit na hoe hierdie kompetisie verder sal uitbrei en jong debatteerders sal help om hul potensiaal ten volle te ontwikkel,” sluit Müller af.
Die tweede provinsiale uitdunrondte vir hoërskooldebatteerders vind op 8 Mei by DF Akademie in die Wes-Kaap plaas.






You must be logged in to post a comment.