Hangende ’n omvattende ondersoek na korrupsie en wanbesteding is die bates van verskeie Eskom-diensverskaffers bevries ná die Spesiale Tribunaal ’n dringende interdik toegestaan het.
Bewerings van ernstige onreëlmatighede met die verkryging van elektriese toerusting vir die Kusile- en Matla-kragstasie in die tydperk 2021 tot 2023 is in dié saak ter sprake. Dié bevel, wat op 25 Maart deur regter Bernard Ngoepe onderteken is, volg op ’n dringende ex parte-aansoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE).
Die SOE beoog om die betrokke kontrakte met Eskom-verskaffers nietig te laat verklaar omdat dit na bewering op onwettige wyse bekom is. Die eenheid het 60 dae om ’n formele hersieningsaansoek in te dien om die kontrakte finaal tersyde te stel.
‘Uiterste rykdom vermoedelik met staatsfondse gefinansier’
Bates waarop beslag gelê is, skets ’n prentjie van uiterste rykdom wat vermoedelik met staatsfondse gefinansier is.
Onder die bates tel ’n indrukwekkende vloot luukse voertuie wat in die name van verskeie trusts en individue geregistreer is. Dit sluit in twee Lamborghini Urus-modelle (een ’n 2021-model en die ander ’n 2022-model), asook as ’n verskeidenheid Porsche-voertuie soos die Cayenne Turbo GT Coupe, ’n Panamera GTS, ’n Macan S en verskeie Cayenne GTS-modelle.
Die voertuie word direk verbind met individue soos Siyabonga Moses Goodwill Nkosi en trusts soos die Nkosi Royal Trust en die Siyabonga Kankosi Trust.
Benewens die voertuie het die Tribunaal ook beslag gelê op 16 vaste eiendomme oor Suid-Afrika heen. Van die waardevolste eiendomme sluit in huise in die eksklusiewe Zimbali-landgoed in KwaZulu-Natal, met waardes van R12,7 miljoen en R9 miljoen onderskeidelik.
In Gauteng is beslag gelê op ’n eiendom in Pretoria ter waarde van R13,5 miljoen, asook verskeie ander wonings in Midrand en Johannesburg. Die lys sluit ook plase en erwe in Mpumalanga in, waarvan sommige miljoene rande werd is.
Partye verbied om met bates te handel
Die verweerders is ’n lang lys van entiteite en individue. Naas Eskom Holdings SOC, word maatskappye soos Abashosholozi (Pty) Ltd, Amagatsha O Lwati Editing CC en Warona Mokgosi (Pty) Ltd gelys. Verskeie trustees en eksekuteurs, waaronder Carolyn Quincy Masemene, Sonny Samuel Nkosi, Thandi Sannah Mngomezulu en Nompumelelo Gwedoline Mashego, word ook betrek.
Volgens die hofbevel word die partye verbied om enige van die genoemde bates te verkoop, te skenk, te verhuur of op enige manier daarmee te handel. Die Registrateurs van Aktes in Pretoria, Mbombela, Pietermaritzburg en Johannesburg is gelas om ’n caveat teen al die betrokke eiendomme te registreer. Insgelyks moet die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) caveats op die voertuie se rekords op die eNaTIS-stelsel plaas.
Regter Ngoepe het verder gelas dat die respondente die presiese ligging van die luukse voertuie aan die SOE moet openbaar en moet verseker dat die voertuie teen hul volle markwaarde verseker bly terwyl die regstryd voortduur.
LEES OOK: SIU secures R76.5 million freeze order in Eskom corruption probe





