Boekliefhebbers kan daarna uitsien om van 7 tot 9 Mei weer na hartelus te snuffel by die groot jaarlikse Eseltjiesrus Boekefees. Daar is duisende tweedehandse boeke en talle splinternuwes om van te kies. Of jy nou na kookboeke, reisverhale, kinderboeke, digbundels of ‘n rare en kosbare boek soek, daar is meer as genoeg om van te kies. Nuwe voorraad word daagliks tydens die feesdae uitgepak.
Die meerderheid van die boeke sal teen R30 elk verkoop word. Daar is ook uitgesoekte koffietafel-boeke wat individueel gemerk gaan wees. ‘n Keur van rare boeke sal op ‘n skriftelike veiling beskikbaar wees. Belangstellendes kan op ‘n vorm bie en die boeke sal aan die hoogste bod toegeken word.
In 2001 het dr. Johan & Annemarie van Zijl van McGregor gereageer op ‘n versoek van die DBV om skuiling te bied vir twee erg verwaarloosde donkies. Die twee genote het opgedaag en is Vaal en Japie genoem – “vaaljapie” is ‘n Afrikaanse term vir ‘n goedkoop witwyn. Dit het gou duidelik geword dat daar baie ander donkies was wat ook skuiling en sorg nodig gehad het. Die droom van ‘n donkie-heiligdom is gebore. Eseltjiesrus is in 2007 geregistreer en die eerste donkie, Adam, het ingetrek.
Eseltjiesrus bied vandag ‘n permanente tuiste vir bejaarde en mishandelde donkies. Hier word hulle die geleentheid gegee om die res van hul lewens gemaklik saam met ander donkies deur te bring. Elke boek wat verkoop, help met die versorging en rehabilitasie van donkies wat uit haglike toestande gered word en by Eseltjiesrus Donkey Sanctuary gehuisves word.
Die donkies eet hul ontbyt om 08:00. Terwyl hulle eet, maak die versorgers seker dat hulle goed eet en geen beserings of gesondheidsprobleme het nie. Die personeel kry daarna hul borsels reg vir oggendsorg. Dit behels die borsel en streel van elke donkie. Die donkies se hoewe word ook skoongemaak en vlieg-afweermiddels word aangewend. Dit is ‘n liefdevolle daaglikse roetine. Die donkies wei dan op die plaas, terwyl die versorgers op verdere take fokus. Die laaste maaltyd van die dag is om 16:00, waarna die donkies weer nagegaan word. Soms is daar besoeke van ‘n veearts, hoefsmid of donkie-tandarts.
Eseltjiesrus is ook ‘n bron van inligting en hanteer navrae van oor die land heen oor die versorging van donkies. Die meeste probleme ontstaan as gevolg van onkunde of die wangeloof dat donkies nie gereelde hantering en versorging nodig het nie. Hierdie hulp maak ‘n beduidende verskil om die openbare status van donkies te verbeter. Elke individuele donkie wat gehelp word, is een minder wat ongemak hoef te verduur.
Die sukses van vanjaar se Boekefees in McGregor sal weer ‘n onontbeerlike rol in die komende jaar se werksaamhede by Eseltjiesrus speel. Kyk ook uit vir die hoekie by die Boekefees waar jy een of meer van die donkies kan aanneem.
Bederf jouself en kom vul jou voorraad leesstof vir die winter wat voorlê aan!
- Besoek www.donkeysanctuary.co.za/how-you-can-help vir nog inligting oor aanneming. Jy kan ook boeke vir die Boekefees skenk of geskenkbewyse vir vriende en familielede koop. Jy kan ook ‘n finansiele skenking maak wat aangewend sal word vir boeke aan plaaslike skole en biblioteke. Skakel 023 625 1801 of stuur ‘n e-pos aan bookfair@donkeysanctuary.co.za vir nog inligting. Volg ook die Fees op Facebook by Eseltjiesrus Donkey Sanctuary of Instagram by @eseltjiesrusdonkeysanctuary. Kontak McGregor Toerisme by 023 625 1954 of Robertson Toerisme by 023 626 4437 vir verblyf.





