Maryna Erasmus en haar ma, Bianca. FOTO: Marti Will

Met ‘n groot glimlag en ‘n hart vol deernis vir ander stap die 16-jarige Maryna Erasmus elke dag ‘n pad wat min mense werklik verstaan. Sy leef al ses jaar met ‘n ongeneeslike siekte, maar sy laat dit nie haar menswees of haar omgee vir ander steel nie.

Maryna was net tien jaar oud toe sy in 2019 met Tipe 1-diabetes gediagnoseer is. Vir haar ma, Bianca, ‘n enkelouer, het die nuus haar soos ‘n vuishou in die maag getref.

“Sy was nooit as baba sieklik nie. Skielik was sy heeltyd dors, sy het na iets soets gesmag en sy was konstant moeg,” vertel Bianca.

Sy het Maryna se ouma Anna Erasmus gevra om haar dokter toe te neem. Toetse is dieselfde dag gedoen en Maryna is onmiddellik hospitaal toe.

“Ek is meegedeel sy het ‘n 50/50 kans op oorlewing,” sê Bianca.

Maryna se noodopname was tydens die Covid-19-pandemie. Sy is in die hoësorgeenheid van die Mediclinic Welkom opgeneem.

“Sy is deurboor met naalde; mense het heeltyd aan haar gewerk. Dit was traumaties,” sê Bianca.

Weens streng Covid-19-regulasies was dit ‘n stryd om by haar dogter toegelaat te word.

“Ek moes baklei om in haar kamer te bly. Toe ek eindelik kon, mag ek nie eens die kamer verlaat nie. Sy was ses dae in die hospitaal. Dit was net genade dat ek langs haar kon slaap en haar hand kon vashou wanneer dit te veel geraak het.”

Vir die tienjarige Maryna was dit ‘n nagmerrie. Terwyl dokters haar insulienvlakke gestabiliseer het, is sy nie toegelaat om te eet nie. ‘n Kind wat nie verstaan hoekom haar liggaam haar in die steek laat nie, moes dapper wees.

‘n Tipe 1-diabetes diagnose kan stresvol wees vir ‘n kind en hul familie. ‘n Jonger kind mag dalk nie al die lewensveranderinge verstaan nie, soos glukosemonitering en insulienspuitjies. ‘n Kind mag voel:

  • Asof hulle gestraf word
  • Skuldig
  • Bang vir die dood
  • Kwaad teenoor die ouer

Ouers kan hul kind help deur hulle as ‘n normale kind te behandel, met diabetesbestuur as net een aspek van hul daaglikse lewe. Onderrig broers en susters en naby familielede oor diabetes sodat hulle jou kind kan verstaan en ondersteun. As jou kind skoolpligtig is, kan die skoolhoof en skoolverpleegster help met die ontwikkeling van ‘n toepaslike skoolsorgplan. Laat jou kind ‘n mediese waarskuwingsarmband dra. (Foto: Ouma Annatjie Erasmus en Maryna Erasmus)

Vandag sê Maryna sy het geleer om haar “normaal” aan te pas om haar lewe leefbaar te maak. Maar daardie “normaal” verg dissipline.

Sy moet vyf keer per dag haar bloedsuiker toets en haarself inspuit, by die huis én by die skool. Sy moes leer om dit tussen haar klasmaats te doen.

Kos kan nie sommer gedeel word nie. Haar ma pak presiese kospakkies, en elke happie word afgemeet.

“Veral Kersfees en Paasfees is moeilik,” sê Bianca. “Die rakke is vol sjokolade, maar sy moet nee sê.”

Maryna het ook geleer om vir maats nee te sê wat by haar kos wil hê – nie uit selfsug nie, maar uit noodsaak. Selfbeheersing het deel van haar daaglikse bestaan geword.

Op ‘n stadium het sy haar ma gevra: “Mamma, wanneer word ek gesond?”

“Ek moes verduidelik dat sy gesond is, maar dat haar siekte nooit sal weggaan nie,” sê Bianca.

“Dit was aanvanklik moeilik om te aanvaar, maar sy het vrede gemaak.”

Toe ‘n glukosemonitor in haar arm geplaas is, was Maryna merkwaardig dapper. Bianca het ‘n video gemaak, waarna dokters gevra het of dit gebruik mag word om ander kinders moed in te praat wat dieselfde prosedure moet ondergaan.

Daar word beraam dat in Suid-Afrika 4 728 kinders en adolessente tussen die ouderdomme van 0-19 jaar Tipe 1-diabetes het. Tipe 1-diabetes verskyn dikwels skielik.

Diabetes is nou deel van Maryna se lewe, maar dit definieer haar nie. Dit het haar vinnig volwasse gemaak. Sy weet ‘n klein sny kan septies raak en tot ernstige komplikasies lei. Sy moet altyd skoene dra, sonskerm gebruik en haar gesondheid fyn dophou. Skoolkampe verg deeglike beplanning. Niks kan aan die toeval oorgelaat word nie.

“Sy is ‘n sterk en gehoorsame kind,” sê Bianca.

“Sy aanvaar haar lewe is anders.”

Maar meer as dit, sê haar ma, het Maryna ‘n besonderse gawe om met mense te kommunikeer, veral met dié wat voel hulle tel nie.

“Sy het ‘n spesiale band met kwesbare mense. Sy laat hulle gesien en gehoor voel.”

Maryna se pad is nie maklik nie. Tog stap sy dit met ‘n oop hart en ‘n sagte hand vir ander. Al is haar siekte ongeneeslik, is haar moed en deernis aansteeklik.

Simptome onder kinders kan insluit:

  • Hoë vlakke van glukose in die bloed en urien wanneer getoets
  • Abnormale dors
  • Vogverlies (dehidrasie)
  • Gereelde urinering (‘n baba mag meer luierveranderings benodig, of ‘n potjie-geoefende kind mag begin om hul broek of bed nat te maak)
  • Uiterste honger maar gewigsverlies
  • Verlies van eetlus by jonger kinders
  • Wasige sig
  • Naarheid en braak
  • Maag- (abdominale) pyn
  • Swakheid en ernstige moegheid
  • Prikkelbaarheid en gemoedswisselinge
  • Ernstige luieruitslag wat nie beter word met behandeling nie
  • Vrugtige asem en vinnige asemhaling
  • Swaminfeksie by dogters

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article