Noordkaap Bulletin

Ekapa-likwidasie: Werknemers voel oorgelaat aan eie lot; pensioene bevries

Ekapa Mine
Deel van Ekapa Minerals in Kimberley. FOTO: Helena Barnard

KIMBERELY – Die dubbele tragedie wat die Diamantstad die afgelope weke getref het nadat Ekapa Minerals ’n aansoek om vrywillige likwidasie gedoen het ná ’n modderstorting waarin vyf werkers ondergronds vasgekeer is, het meer as ‘n duisend werknemers sonder inkomste gelaat. Boonop het hulle die skoknuus ontvang dat hul pensioene bevries is.

Numsa– en Uasa-vakbonde het Maandag met dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, vergader en versoek om by die krisis in te gryp. Hoewel die Ekapa-werknemers salarisstrokies vir Februarie ontvang het, is hulle nie betaal nie.

Werknemers is verlede Woensdagoggend summier meegedeel om hul besittings in die sluitkaste te pak en huis toe te gaan want die myn gaan sluit.

Penarie vererger deur burokrasie

Vir veterane soos Kosie (skuilnaam), ’n assistent-werktuigkundige met 27 jaar diens, is die slag vernietigend. Sy pensioen by Momentum is bevries weens die likwidasieproses.

“My vrou is werkloos en ek is die enigste broodwinner. Ek het reeds my begrafnispolis opgeskort om kos op die tafel te kry,” sê hy. Sy mediese fonds is ook opgeskort weens wanbetaling. Hy vrees hy sal sy huurhuis binne maande verloor.

Sy penarie word vererger deur burokrasie: hy kan nie by ander myne werk soek nie omdat hy nie ’n mediese uitdienstrede-sertifikaat kan kry nie.

Ekapa mynwerkers by die premier se kantoor.
Ontstoke werknemers van die Ekapa-myn Vrydag by die premier se kantoor. FOTO: Charné Kemp

LEES OOK: Ekapa in Kimberley goes into liquidation amid ongoing search for trapped miners

“Ek het reeds ’n werk by ’n myn in Postmasburg, maar ek kan dit nie kry sonder die nodige dokumente nie. Die Ekapa- mynkantore is gesluit en niemand is daar om die dokumentasie voor te berei en onderteken nie. Ek het ook nie dokumente om werkloosheidsversekering te eis nie.”

Hy het reeds sy bakkie verlede jaar verkoop, en die geld moet hom vir die volgende maande hou totdat hy weer ’n werk kry. Sy plan was om ʼn eie besigheid te begin “maar mense betaal nie” of in Amerika te gaan werk, maar hy het nie geld vir ’n vliegkaartjie nie.

Hy ervaar erge stres en slaap sleg, en die nuus het sy vrou ernstig getref, veral omdat sy sieklik is.

Sy pa wat meer as 40 jaar vir De Beers in die myne gewerk het, het lankal gewaarsku dat sekere plekke in die myn te gevaarlik is om te bewerk.

‘Situasie is desperaat’

Marlise, nog ’n geaffekteerde werker wat onder ʼn skuilnaam praat, sê die situasie is desperaat, veral nadat sy vandeesweek verneem het sy kan geen geld uit haar pensioenfonds trek nie.

“Die nuwe twee-pot-pensioenstelsel bied geen uitkoms nie, want ons aftreefonds is ontoeganklik tydens likwidasie.

Sy hoop die likwidateur sal aansoek doen om minstens 50% van die fondse vry te stel, maar vir nou is daar geen antwoorde nie.

“Ek het ʼn huis wat ek moet afbetaal, ʼn motor en ʼn kind in matriek. Ek kan hom nie in die koshuis teen betaling sit en uit desperaatheid elders vir minder geld gaan werk nie. Wie gaan my huis in die swak ekonomiese omstandighede wil koop?”

Sy is woedend dat die mynbase tot op die nipper gewag het om hulle sonder salarisse op die 25ste van die maand huis toe te stuur.

“As hulle ons vroeër gesê het, kon ons aftrekorders vooraf gestop het en onnodige bankkoste vermy het. Ons is heeltemal onkant gevang.”

Sy vrees kredietrekords kan skade ly weens van onbetaalde debietorders.

“Is daar ooit iemand by die personeelafdeling wat die vereiste amptelike likwidasiedokumente kan verskaf wat ons kan gebruik om huispaaiemente tydelik te vries of betalings uit te stel?

“Boonop is salarisse verlede jaar weens die swak diamantpryse en gepaardgaande geldelike knyp van die myn met ʼn sekere persentasie besnoei met die belofte dat dit terugbetaal sal word as sake verbeter. Ons is daardie gedeelte van ons salarisse en ook bonusse kwyt,” sê sy.

LEES OOK: WATCH | Mantashe prioritises body recovery over mine liquidation at disaster-hit Ekapa

Mynbou se bydrae tot Kimberley krimp

In ’n TV-onderhoud het Saul erken dat hy deur woedende en “briesende” mynwerkers by sy kantoor gekonfronteer is.

Hy het onderneem om Dinsdag met die mynbestuur te vergader, veral om die nodige dokumente in plek te kry sodat werknemers werkloosheidsversekering en ander voordele kan eis, en ander werk kan soek.

Saul sê dat mynbou se bydrae tot die stad se BBP tot net 7% gekrimp het.

“Sonder die Sol Plaatje Universiteit, wat nou 34% tot die BBP bydra, sou Kimberley vandag ’n spookdorp gewees het,” sê Saul.

Die openbare sektor wat ook meer as 20% bydra en die universiteit hou die stad aan die gang terwyl die mynbedryf kwyn.

Terwyl die finansiële stryd bo die grond woed, bly die lot van die vyf vasgekeerde werkers onseker.

Saul beskryf dit as “buitengewoon moeilike tye” vir die familie van die vasgekeerde mans aan wie hy sy medelye oorgedra het, maar kon geen nuwe inligting verskaf oor of die operasie steeds ’n reddingspoging is, en of dit na ’n herwinningsoperasie oorgeskakel het nie.

LEES OOK: Gauteng legislature welcomes military deployment to combat illegal mining

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article