Gemeenskapslede het Vrydagoggend (23 Januarie) by die Klapmuts-kliniek, reg oorkant die plaaslike laerskool, byeengekom ná die skielike dood van 'n agtjarige leerder. Foto: Yaël Malgas
Gemeenskapslede het Vrydagoggend (23 Januarie) by die Klapmuts-kliniek, reg oorkant die plaaslike laerskool, byeengekom ná die skielike dood van ‘n agtjarige leerder. Foto: Yaël Malgas

“Nee, Here. Net nie dit nie!”

Dit was die woorde van Sonja Baartman (35) van Klapmuts nadat sy haar verlede Vrydag (23 Januarie) na die plaaslike kliniek gehaas het nadat haar agtjarige seuntjie by die skool seergekry het.

Sonja sê aanvanklik is vir haar gesê haar jongste seun, Matthew Cheswin Baartman, is geskok by Klapmuts Primêr. “Die oggend het ek sy broodjie, sap en vrugte ingepak. Ek het druiwe in sy bakkie geplaas en ‘n pruim vir hom ingepak, maar hy het gesê ek moet liewer die pruim vir my vat,” vertel Sonja.

Die ma vertel Chessy, soos sy familie hom genoem het, is Vrydag kaalvoet skool toe nadat hy vroeër een van sy skoolskoene laat wegraak het. “Ek het gesê hy moet maar wag tot die einde van die maand vir nuwe skoene.”

Ná ‘n klapsoen en ‘n belofte om haar later te sien is Chessy by die deur uit. “Want as ek met hom skool toe stap en ons kom by die winkel om die draai, dan sê hy ‘jy kan maar net hier omdraai, mamma, dis orraait’, dan hardloop hy na sy tjommies om saam met hulle skool toe te stap.”

Sonja was nie lank terug by die huis nie en het na gospelmusiek geluister toe sy ‘n oproep van die skool ontvang. “Ek trek toe sommer ‘n sweetpakbroek bo-oor my slaapbroekie aan en ek beweeg. Toe ek in die grootpad kom, sien ek ‘n vriend wat toe skree ek moet kom, want Cheswin is geskok. Ek vra toe ‘wat?!’ en ek hardloop… soos ek hardloop skree mense Cheswin lê daar [by die skool] en toe ek by die hoek van die skool kom, sê iemand ek moet na die kliniek gaan, want hulle het hom kliniek toe gedra.”

Wyle Matthew Cheswin Baartman (8).
Wyle Matthew Cheswin Baartman (8).

By die kliniek is Sonja gesê sy kan nie onmiddellik vir Chessy sien nie, want hulle was nog besig om hom te help. Sonja vertel van die senutergende oomblik wat dit aanvanklik geblyk het haar seuntjie het weer sy bewussyn herwin, maar uiteindelik was dit alles tevergeefs.

Beamptes van Stellenbosch-munisipaliteit se wetstoepassers, lede van die plaaslike onderwyskringbestuur en werkers van Eskom was Vrydag op die skoolterrein ná die voorval. Die presiese oorsaak van sy dood is nog nie bevestig nie, maar volgens die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) was daar geen bewys dat die seuntjie doodgeskok is nie.

Die WKOD het sy medelye met die Baartmans betuig. Kerry Mauchline, woordvoerder vir die Wes-Kaapse minister van onderwys, David Maynier, het by navraag gesê daar is geen bewyse dat elektriese bedrading met die seun se dood verbind kon word nie.

“Ons het sosialemedia-bespiegeling opgemerk wat lui ‘n kragverbinding was betrokke. Die skool het leerders huis toe gestuur ná die voorval en ‘n assesseringspan wat ‘n elektriese kontrakteur ingesluit het, was Vrydagmiddag by die skool om die bewering van lewendige drade of elektriese verbindings wat betrokke was, te ondersoek.

“Geen bewyse kon gevind word om die bewering te ondersteun nie, en die skool het Maandag met volle bywoning heropen. Ons doen ‘n beroep op die publiek om nie onbevestigde inligting en gerugte te versprei nie. Die polisie onderneem ‘n ondersoek wat die oorsaak van sterfte sal insluit, en ons sal hulle ons volle ondersteuning gee,” het Mauchline gemaan.

Die Klapmuts-gemeenskap is ontstoke gelaat deur die departement se kommentaar en vele meen Chessy se dood word nou toegesmeer.

Die skoolhoof, Lee Hoffmann, het Saterdag (24 Januarie) in ‘n verklaring op die skool se Facebookblad die gemeenskap verseker alle nodige stappe is geneem om die skoolterrein te beveilig.

Hy het verduidelik die skool het onmiddellik die voorgeskrewe protokol gevolg ná afloop van die voorval met Chessy. Dit het ingesluit om die voorval by Veilige Skole en die WKOD se hoofkantoor aan te meld. Saam hiermee is die departement van maatskaplike dienste in kennis gestel.

Hoffmann het bygevoeg onafhanklike kontrakteurs is aangestel en die WKOD se Infrastruktuur- en Beplanningsdirektoraat was byderhand “om die veiligheid van die skoolperseel deeglik te assesseer”. Teen Vrydagaand is die skoolterrein veilig verklaar.

“Noodsaaklike voorsorgmaatreëls is ingestel, veral in die betrokke deel, om die veiligheid van almal op die terrein te verseker,” lui Hoffmann se skrywe.

Eikestadnuus het na Hoffmann uitgereik vir kommentaar, maar het teen druktyd geen terugvoer ontvang nie.

Wyle Matthew Cheswin Baartman troosdiens.
Sonja Baartman (derde van links), ma van wyle Matthew, tydens haar seun se troosddiens Sondag (25 Januarie).

Intussen sê Veronica Gelant, ‘n Klapmuts-gemeenskapsaktivis, die belangrikste van alles is om die Baartman-familie deur die hartseer tyd te ondersteun. “Ons as gemeenskap moet regtig hier wees vir Sonja en dan moet ons ook die familie ondersteun ná die begrafnis. Dit is moeilik vir Sonja om te aanvaar sy het haar kind skool toe gestuur en hy het nooit terugkom nie.

“Wat die voorval betref, kan ons nie bespiegel oor wat by die skool gebeur het, of op hoorsê gaan nie. Al wat ons wil hê, is dat geregtigheid moet geskied sou daar ‘n fout wees van die departement se kant af by Klapmuts Primêr, sodat Sonja vrede vind na haar kind se afsterwe,” meen Gelant.

Sondag (25 Januarie) het maatjies, familie en die Klapmuts-gemeenskap in die stampvol Klapmuts-veeldoeligesentrum byeengekom om die lewe van die gr. 3-leerder te vier. Sonja bedank almal in die gemeenskap wat haar sedert Vrydag ondersteun het hetsy met ‘n boodskap, drukkie of ‘n woord van bemoediging.

Eikestadnuus het na die polisie uitgereik vir meer inligting oor Chessy se lykskouing, sowel as die amptelike oorsaak van sy dood, maar het teen druktyd geen terugvoer ontvang nie.

• ‘n Gedenkdiens word vanoggend (Donderdag) by die skool gehou en sy begrafnis is Sondag om 09:30 vanuit die skoolsaal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article