Voorgeskrewe of beheerde brande kan die risiko van veldbrande verminder terwyl dit die natuurlike gesondheid van Suid-Afrika se brandafhanklike ekostelsels ondersteun.
So sê prof. Natalia Flores Quiroz van die Universiteit Stellenbosch (US) se brandingenieurspan.
Wanneer die rook van ‘n beplande brand naby ‘n dorp begin trek, reageer mense dikwels onmiddellik en is hulle eerste vraag gewoonlik: Hoekom steek hulle die veld aan die brand?
Inwoners is bekommerd dat die brand dalk buite beheer kan raak. Ander kla oor die rook wat by hulle huise, skole, wingerde of sakeondernemings inkom. Vir baie mense klink dit gevaarlik en onnodig om die plantegroei doelbewus aan die brand te steek.
“Maar in baie Suid-Afrikaanse landskappe, veral waar natuurlike plantegroei en dorpe mekaar ontmoet, is ‘n brand nie net onvermydelik nie, maar noodsaaklik,” verduidelik Flores Quiroz.
LEES OOK: Eerste bergbrand hou brandbestryders besig in Simondium
Warmer toestande beteken meer brande
SA het die afgelope paar jaar verskeie verwoestende brande op die koppelvlak tussen stedelike of dorpsgebiede en die natuurlike veld (WUI) ondervind, waar brande deur natuurlike plantegroei na gemeenskappe versprei het.
Die Knysna-brande van 2017 bly een van die land se mees tragiese voorbeelde wat tot talle sterftes, massiewe ontruimings, die vernietiging van meer as 1 000 huise en enorme omgewings- en ekonomiese verliese gelei het.
Soortgelyke brande bedreig steeds gemeenskappe oor die land heen namate warmer, droër toestande en toenemende ontwikkeling die brandrisiko verhoog.
Dít is waar voorgeskrewe brande belangrik word, sê Flores Quiroz.
Beheerde brande help om risiko te beperk
“Die sorgvuldig beplande en beheerde gebruik van brande om opgehoopte plantegroei te verminder, kan ‘n belangrike rol in die vermindering van die risiko en intensiteit van veldbrande speel, terwyl dit ook ekostelsels soos fynbos gesond hou.”
‘n Voorgeskrewe brand word onder spesifieke weerstoestande deur opgeleide spanne uitgevoer, terwyl daar maatreëls getref is om die brand tot ‘n afgebakende gebied te beperk. Die doel daarvan is om die hoeveelheid droë plantegroei – of brandstof – wat gedurende ‘n veldbrand kan brand, te verminder.
Wat belangrik is, is dat voorgeskrewe brande nie net oor die beskerming van gemeenskappe gaan nie. Vuur is in ekostelsels soos fynbos ‘n natuurlike en noodsaaklike proses.
Baie fynbos-spesies is van vuur afhanklik om voort te plant, met sommige sade wat eers na blootstelling aan hitte of rook ontkiem. Sonder vuur kan hierdie ekostelsels mettertyd ongesond en minder divers word.
“Fynbos moet tipies elke tien tot 20 jaar brand. As plantegroei vir te lank nie gebrand het nie, hoop dooie en droë plantmateriaal op, wat groot hoeveelhede brandmateriaal veroorsaak.”
Wanneer brande dan uiteindelik in warm, droë en winderige toestande voorkom, kan dit uiters intens raak, vinnig versprei en brandbestrydingspogings bemoeilik.
“Met ander woorde, die afwesigheid van vuur verwyder nie die risiko nie. Dit kan dit verhoog.”
LEES OOK: Universiteit Stellenbosch se ‘bergbokke’ skrik nie vir vlamme nie
Voorkennis maak voorsorg
Een van die grootste uitdagings gedurende ‘n veldbrand is dat brandstoftoestande nie maklik verander kan word nadat die brand onstaan het nie.
Brandbestryders kan nie skielik jare se opgehoopte, droë plantegroei verwyder terwyl vlamme huise bedreig nie. Daardie werk moet vooraf gedoen word.
Voorgeskrewe brande kan brandintensiteit verminder, brandverspreiding vertraag en veiliger toestande vir brandbestrydingswerk skep.
Hulle kan ook die waarskynlikheid van groot ontruimings, infrastruktuurskade en langdurige veldbrandnoodgevalle verminder.
Tydelike ongerief, verminderde gevaar
Tog is voorgeskrewe brande dikwels ongewild, merk Flores Quiroz op.
“Rook affekteer nabygeleë gemeenskappe, terwyl sommige inwoners vrees dat die brand buite beheer kan raak. Munisipaliteite en grondbestuurders staar ook streng regulasies, aanspreeklikheidskwessies, beperkte hulpbronne en baie klein geskikte weervensters vir ‘n veilige brand in die gesig.”
‘n Mens kan hierdie bekommernisse verstaan, sê sy. Maar die tydelike ongerief van ‘n beplande brand moet teen die gevolge van ‘n onbeheerde veldbrand opgeweeg word.
“‘n Paar dae se rook weens ‘n voorgeskrewe brand is baie anders as weke van rook, vernietiging en noodreaksie gedurende ‘n groot veldbrandramp.”
Namate meer mense na gebiede trek wat geneig is tot brande, sal Suid-Afrika moet leer om beter saam met vuur te leef, eerder as om dit heeltemal te probeer voorkom.
Groen berghange mag veilig lyk, maar wanneer plantegroei dekades lank nie gebrand het nie, kan daardie selfde landskappe al hoe gevaarliker word.
“Voorgeskrewe brande gaan nie oor die vernietiging van die natuur nie. Dit gaan daaroor om saam met die natuurlike rol van vuur in ons ekostelsel te werk terwyl die risiko’s wat gevaarlike veldbrande vir gemeenskappe inhou, verminder word,” sluit Flores Quiroz af.
- Die US werk saam met brandwetenskaplikes van Noorweë en plantkundiges van die Sol Plaatje-Universiteit aan ‘n projek, WildFireSafe, oor voorgeskrewe brande. Hierdie werk poog om deur die bestuur van veldbrandrisiko’s brandveiligheid vir Suid-Afrikaanse huishoudings te bevorder.
LEES OOK: Wemmershoekbrand woed steeds, maar nou onder beheer



