Deursettingsvermoë, passie en goeie ondersteuning is wat die matriekklas van 2025 deurgedra het en hul uitslae spreek daarvan.
Só meen Stellenzicht Sekondêr se skoolhoof, Carol Abrahams, wat Dinsdag (13 Januarie) die skool se voormalige matrikulante se eindeksamenuitslae oorhandig het. Stellenzicht, in Jamestown, se slaagsyfer was 82,7% – ‘n effense afname van die vorige jaar se 82,9%.
Tog sê Abrahams verlede jaar se matriekklas het die skoolgemeenskap trots gemaak, veral omdat so baie leerders van die geen-fooi-skool verskeie uitdagings moes trotseer net om hul skoolloopbaan te kon voltooi.
Een so ‘n leerder is Yolanda Jonkers (18) wat byna nie haar laaste vraestel geskryf het nie.
Abrahams vertel Yolanda het deur die hele matriekeksamen erge pyn gehad en op die dag van Afrikaans II, die laaste vraestel wat sy moes aflê, was Yolanda so siek dat sy Stellenbosch-hospitaal toe eerder as skool toe is.

Abrahams het met Yolanda se voog kontak gemaak, wat vertel het die hospitaal kon nie veel help nie en hulle het haar huis toe gestuur.
Yolanda en haar tannie was te voet op pad terug na Devonvallei, waar hulle op ‘n plaas woon, toe Abrahams hulle langs die pad opgelaai het. “Ek het haar gevra of sy nie wel kans sien om haar laaste vraestel te skryf nie. Dit sou haar hele eksamen in gedrang bring, maar daar was nog tyd om haar by die eksamenlokaal te kry,” vertel Abrahams.
Die tiener het toe ingestem en met ‘n Energade en ‘n paar pynpille het Yolanda deur haar laaste eksamen gekom.
Vandeesweek het die skoolhoof en leerder ‘n emosionele reünie by die skool gehad – nog meer omdat Yolanda al haar vakke geslaag het.
Volgens Yolanda gaan dit nou beter met haar gesondheid en is sy verlig dat alles goed afgeloop het. Haar plan is om verder te studeer en óf ‘n afrigter óf ‘n persoonlike afrigter te word.
“Baie van ons leerders het hul eie lewensverhale. Daar was ups and downs vir hulle almal, maar ons het die vorige jaar se slaagsyfer as mikpunt vir hulle voorgehou en hulle het hard gewerk om hul uitslae te behaal. Die skool sou ook nie hierdie prestasie kon behaal sonder die deursettingsvermoë van die gr.12-onderwysers nie. Hulle is ‘n jong, innoverende span wat goed saamwerk en gereeld aanpas en goeie praktyke deel,” verduidelik Abrahams.

Só lyk die uitslae vir die res van Stellenbosch
Die Kaapse Wynland-distrik het ‘n algehele slaagsyfer van 84,6% behaal met drie Stellenbosse skole wat met ‘n 100%-slaagsyfer spog.
Die Hoër Meisieskool Bloemhof en Rhenish Girls’ High School het weer skoonskip gemaak en vanjaar is Paul Roos Gimnasium (PRG) ook deel van die groep. PRG se matriekklas van 2024 het ‘n 99,6% slaagsyfer gehad.
Onder die skole wat ook hul slaagsyfer verbeter het, was die Hoërskool Stellenbosch – op van 97,3% (2024) na 99,2%; Calling Academy wat op is na 98,4% van 93,3%; en Groendal Sekondêr wat aansienlik verbeter het op hul 62%-slaagsyfer in 2024 na 70,4% vir verlede jaar se matriekklas.
Die Hoërskool Franschhoek se uitslae was bestendig met 98,4% – dieselfde slaagsyfer as die 2024-klas. Albei Khayamandi-hoërskole se slaagsyfers het gedaal met Makupula Sekondêr wat van 91,7% (2024) na 89,4% en Khayamandi Sekondêr wat met meer as vyf persentasiepunte na 80% gedaal het. Kylemore Sekondêr se matriekklas het teruggesak na 87,6% van hul voorgangers se 89,4%. Die Hoërskool Lückhoff se slaagsyfer is ook af – van 81,2% na 77,4%.
Volgens die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het die aantal onderpresterende skole – hoërskole met ‘n slaagsyfer onder 60% – van vyf in 2024 na slegs twee in 2025 verminder.
Die provinsiale minister van onderwys, David Maynier, het die 2025-matriekklas vir hul slaagsyfer geprys, wat die hoogste nog vir die provinsie was. “Ongelooflik – die klas van 2025 het die hoogste retensiekoers in die land teen 70% behaal, wat ook die top-retensiekoers is wat ons provinsie sedert 2021 gehad het. Dit beteken ons het meer leerders met die geleentheid om hul eksamens te slaag en skool volgens skedule te voltooi, sodat hulle hul loopbane en verdere studies kan begin,” meen Maynier.
• Matrikulante wat nie die paal gehaal het nie, kan hul vakke in Junie herskryf. Besoek https://www.westerncape.gov.za/education/national-senior-certificate-nsc-exams vir inligting daaroor.






You must be logged in to post a comment.