Katrina Coetzee (50) wys sê haar gesin leef in vrees weens ‘n slang wat glo in hul huis se dak woon. Foto: Yaël Malgas

Om ‘n slegte huismaat te hê kan ‘n nare ervaring wees, maar vir een Stellenbosch-gesin gee hul ongewenste huismaat hulle letterlik nagmerries.

Elke aand wanneer Katrina Coetzee (50) by haar woning op ‘n plaaslike plaas instap, vra sy haarself “wat gaan weer vanaand gebeur?” Vir die afgelope maand leef Coetzee en die ander sewe lede van haar gesin met ‘n sidderende, sylende huismaat wat hulle hoor, maar skaars sien.

“Ons het agtergekom hier is ‘n slang in die dak. Diegene wat hom gesien het – my susterskind en een van die plaaswerkers – sê dit lyk soos ‘n volwasse kobra,” vertel Coetzee. Dit blyk dat die slang homself in die dak van die drievertrekhuis tuisgemaak het, met geen teken dat hy eersdaags sal padgee nie.

Katrina Coetzee (50) wys na die gat in die plafon waar gesinslede ‘n slang gesien het. Saam met Coetzee is haar ma, Jorina Thomas (82). Foto: Yaël Malgas

Die gesin was bewus dat daar rotte in die dak was, maar het gemeen die geluide wat hulle gehoor het, was die diertjies wat mekaar aangeval het.

Nadat Coetzee met ‘n slangvanger gesels en die situasie verduidelik het, is sy gesê wat die gesin hoor, is die slang wat rotte vang en vreet.

Slangvangers het vir Coetzee verduidelik omdat die huis nie ‘n solder het nie, kan hulle nie in die dak kom sonder om die plafon te breek nie. Weens die ouderdom van die huis sal die plafon en dakplate afgehaal moet word om die slang op te spoor, maar Coetzee sê hulle het nie geld om die dak dan te herstel nie.

“Ons hoor hoe die slang rondbeweeg. Ons weet hier rondom 18:00 begin hy aktief raak; hy beweeg dan rond en ons kan hom hoor. Die groot vrees is dat hy uit die dak gaan syl of val. Indien dit wel ‘n Kaapse kobra is, is dit nog erger… Meeste van ons sal kan weghardloop as dit sou gebeur, maar Skylar is net ‘n jaar oud. Wat as sy die slang sien? Sy sal natuurlik nie besef hoe gevaarlik dit is nie,” meen Coetzee.

LEES OOK: Snake anti-venom production resumes in South Africa

Deel van hul vrees is dat die slang ‘n wyfie is wat eiers in die dak lê.

Volgens Emile Rossouw, die slangvanger agter Stellenbosch Snake Removals, is dit baie moeilik om ‘n slang te soek. “Dit is baie moeilik om ‘n slang op te spoor. Ek het al twee ure net in een kamer gesoek na ‘n slang, want die plekke waarin hulle kan wegkruip is oneindigend,” verduidelik hy.

Rossouw se vermoede is dat die slang nie heeldag in die dak bly nie aangesien die sinkdak te warm raak. Sy vermoede is dat die slang eerder gereeld terugkeer vir skuiling, nie permanente blyplek nie.

Dit is ook nie die gesin se eerste moeilikheid met slange nie.

‘n Paar jaar terug was ouma Jorina Thomas, Coetzee se ma, in die kombuis besig toe ‘n slang glo uit die dak val. Die boomslang het op die 82-jarige se skouer geval en toe op die grond. “Sy het vir my geskree en ek het ingehardloop gekom,” verduidelik Richard Kellerman (58). Kellerman, wat in Klapmuts woon, sê hy het ‘n stok gegryp, die slang ‘n paar houe gegee en dit uit die huis gedra.

Coetzee sê haar bure het gesê die gesin moet liewer die hasepad kies en uittrek, maar met geen ander heenkome nie, is dit nie ‘n opsie nie. “Ons woon gratis in die huis, omdat my pa destyds op De Hoop-plaas gewerk het. Die plaas is intussen vele kere verkoop en De Hoop is opverdeel. Nou is ons verantwoordelik vir die huis se instandhouding. Ons hoop iemand kan ons help met ‘n skenking van dakplate,” verduidelik Coetzee.

Bure van Katrina Coetzee help die gesin om die erf om hul woning skoon te maak, in die hoop om minder wegkruipplek vir ‘n slang wat vermoedelik in die huis se dak woon, te bied.

Saterdag (7 Februarie) het ‘n paar bure opgedaag om skouers aan die wiel te sit om die bosse om die huis te help afkap. Takke en bosse is afgesaag in die hoop dat minder wegkruipplek minder rotte sal beteken, wat die slang uit die huis sal kry.

Rossouw sê hy het slange in skoene, hoekies en bokse uitgehaal. Hy raai mense aan wat vermoed hulle het ‘n slang in die huis om altyd die ligte aan te sit. “Wat ook al kos vir slange kan lok, kan slange lok. Enigiets wat paddas of muise en rotte lok kan uiteindelik tot slange lei.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article