Klapmuts Primêr se nuwe skoolhoof, Lee Hoffmann. Foto: Yaël Malgas

Soggens vroeg wanneer Lee Hoffmann na Klapmuts Primêr ry, staan die skool helder verlig soos die baken van hoop wat hy glo die skool sal wees.

Hoffman het aan die begin van die derde kwartaal die leisels by die skool oorgeneem. Hy was voorheen by skole in Mitchells Plain en Simonstad.

Nou is Hoffmann aan die stuur van een van die grootste laerskole in die Kaapse Wynlande met ‘n leerdertal van byna 1 500 kinders.

“Klapmuts het ‘n unieke konteks en kom met uitdagings, maar die skool moet as ‘n baken van hoop in die gemeenskap staan,” meen Hoffmann.

Die nuwe hoof sê hy het die afgelope weke gewerk om die ritme van die skool te leer deur na die skoolgemeenskap te luister. ‘n Deel hiervan was om met die personeel te gesels oor wat hul uitdagings is.

Die skool akkommodeer tans verskeie leerders met leer-uitdagings en wat addisionele ondersteuning nodig het. Hoffmann sê hierdie uitdagings het ‘n geleentheid geskep om na ander skole in die streek uit te reik en by hulle te leer.

Benewens om kennis uit te ruil, is dit ook ‘n manier om bande te smee, meen hy. “Daar is soveel skole in ons streek wat verskeie leerders akkommodeer en ons het na hulle uitgereik om by hulle te leer. Ons hou binnekort ‘n werksessie met ons kollegas oor neurodivergente onderrig,” verduidelik hy.

“My hoop is dat die leerders van Klapmuts Primêr ‘n gelukkige kind; ‘n kind wat honger is vir leer en een wat veilig voel, is. Ek wil ‘n ouergemeenskap sien wat betrokke is en die skool beskerm. Ek wil personeel sien wat as een beweeg om die belange van die kind sowel as die gemeenskap te bevorder. My hoop is die skool word een waar die skoolvlag met trots gehys en die skoollied uit volle bors gesing word.”

Hoffmann sê om dié droom te verwesenlik, het hy teruggegaan na die skool se leuse – Lieben Und Arbeiden. “Liefde en arbeid – ons as skool werk met ons leerders met liefde en respek. Hierdie twee kan nie geskei word nie. [Ons werk ook] met doelgerigte arbeid. Daar is sekere kernprioriteite en die departement van onderwys se visie is gehalte-onderrig vir elke kind, in elke klaskamer en in skole in die provinsie. Vir ons beteken dit doelgerigte arbeid met programme wat hierdie visie altyd in ag neem.”

Hoffmann streef om eenheid te hou in die skoolgemeenskap en gebruik nou die skool se sosiale media vir die doel.

“Ek het gewonder hoe ons die skool se Facebookblad as meer as net ‘n kennisgewingbord kon gebruik. ‘Stories van Hoop’ is begin. Dit is om ouers, leerders, onderwysers – almal – ‘n stem te gee, want dis inklusief. Terselfdertyd spreek ons hoop.

“Niemand gaan my oortuig niks goeds gaan uit Klapmuts kom nie. Soms is ons so vasgevang in ‘n groef van ellende, maar ek wens die leerders kan sien wat ek in hulle sien. Ek het self in ‘n landelike gebied met min geleenthede grootgeword, maar daar was mense wat vir my omgee het. Daarom moet ons hoop dryf en hulle te wys wat moontlik is.”

Hoffmann het in Tulbugh saam met sy grootouers gewoon voordat hy as tiener by sy ouers in Kaapstad kom woon het. Hier het hy later by Simonstad-skool gematrikuleer. “Al die tekens was daar dat ek die onderwys moes kies, maar ek het dit nie destyds besef nie,” sê Hoffmann skertsend.

Ná matriek het hy by Stuttafords gewerk waar ‘n kollega hom geïnspireer het om te studeer ten spyte daarvan dat hy nie seker was van ‘n loopbaan in die onderwys nie. “Sy het verduidelik as ek gaan studeer, het ek darem iets agter my naam. Teen daardie tyd was dit egter al September; ek het nie die registrasiegeld gehad nie, maar ‘n vriend neem my toe met sy bakkie na Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie se Mowbray-kampus om in te skryf.”

Ten spyte van haakplekke het Hoffmann met sy studies begin en hier het hy een van sy grootste mentors, dr. Hendrik Theys, ontmoet.

Hoffmann sê Theys het gewys wat dit is om meer te doen as wat gevra word om uiteindelik in ander, veral jongmense, te belê.

Hoffmann meen ‘n skool is ‘n dryfveer vir ‘n gemeenskap om die grootste impak te maak, maar g’n hoof kan dit alleen doen nie.

“Ons moet saam aan die suksesverhaal van hierdie gemeenskap kan skryf met Lieben Und Arbeiden.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article