Vele van Suid-Afrika se merkwaardige vroue is gekompliseerde en formidabele mense – en word deur die gesoute joernalis en navorser Lizette Rabe in haar boek 101 Remarkable South African Women uitgelig.
Ná jare se navorsing en skryfwerk het Rabe haar boek verlede Dinsdag (24 Februarie) by die Universiteit Stellenbosch se joernalistiekdepartement bekendgestel – ‘n gepasde venue aangesien Rabe vir langer as ‘n dekade hoof van dié departement was.
Rabe sê hoewel sy ‘n feminis is, is die boek geen “manne-haat-manifes” nie. In teendeel, sy hoop die boek is vir enigeen toeganklik. “Ek dink nie enigeen, vrou of man, moet bang wees om hulself ‘n feminis te noem nie,” sê Rabe.
Op die geleentheid was Rabe in gesprek met dr. Manet Jordaan, haar oud-student en tans hoof van die departement.

Rabe sê terwyl sy aan die stuur van Sarie was, het sy oor die jare brokkies oor merkwaardige vroue bymekaargemaak. Hierdie knipsels het die idee vir die boek aangewakker.
Hoewel sy aanvanklik gedink het die boek sou eenvoudig haar eerste projek ná aftrede wees, het die samestelling haar drie jaar besig gehou. “Die moeilikste taak was om te besluit wie om uit te laat,” bieg Rabe.
Sy vertel die idee was om ‘n boek te skryf wat die diverse vroue van Suid-Afrika verteenwoordig. Dit het beteken skry- wers, aktiviste en sporthelde is deel van die 101 uitgekosene vroue.
Rabe meen hoewel Suid-Afrika met ‘n uitnemende Grondwet en ‘n vrouehandves vir doeltreffende gelykheid spog, is daardie dokumente vir vele vroue net dit, dokumente. “Hierdie regte blyk niks meer as woorde op papier te wees nie. Wat ons daagliks en vir sommige vroue, elke aand, rondom ons sien, hoor en ervaar, is dat vroue steeds fisiek en sielkundig aan die ontvangkant van ‘n wrede manlike chauvinistiese samelewing is,” skryf sy,
Daarom het Rabe dit belangrik geag om vroue soos “Eva van die Weskus”, Maria van Riebeeck, die fluitjieblaser Babita Deokaran, die Grammy-wenner Tyla en die wyle digter Diana Ferris uit te sonder.
“In die geval van Tyla is sy deur Amerikaners uitgekryt toe sy na haarself as coloured verwys, maar sy het aangedring dat sy nie van Amerika is nie, en sy nie in ‘n Amerikaanse konteks praat nie. Sy is Suid-Afrikaans en het as ‘n Suid-Afrikaner gepraat,” vertel Rabe.
“Ek dink toe om op 21 jaar só sterk te kan staan, beteken sy moet in die boek wees en so is sy die 101ste vrou. En nou het sy haar tweede Grammy gewen en op die verhoog gestap met die Suid-Afrikaanse vlag.”
Terwyl Jordaan meen Rabe is die plek van 102ste vrou op die lys werd, sê Rabe sy hoop die boek prikkel lesers om meer te leer oor al die formidabele vroue in Suid-Afrika.
• 101 Remarkable South African Women word deur Jonathan Ball-uitgewers uitgegee en is by boekhandelaars beskikbaar.






You must be logged in to post a comment.