Paul Roos Gimnasium (PRG) het vandeesmaand sy 17de rektor verwelkom en volgens Jannie de Villiers is dié pos een wat nog altyd op sy droomlys was.

“Die moontlikheid om rektor van PRG te word, het my verbeelding aangegryp, aangesien dit nog altyd ‘n pos op my droomlys was en skielik binne bereik gekom het. Ek móés eenvoudig my naam in die hoed gooi,” verduidelik De Villiers.

André van Staden het aan die einde van die tweede kwartaal ná agt jaar in die amp uitgetree.

Paul Roos Gimnasium verwelkom Jannie de Villiers as die 17de rektor van Paul Roos Gimnasium. Sy amptelike inhuldiging verlede week beteken die begin van ‘n opwindende nuwe hoofstuk vir die Paul Roos-familie, en die skool sien uit na die pad wat hulle saam gaan stap. André van Staden, oud-rektor, verwelkom sy opvolger.

Voor sy pos in die Eikestad was De Villiers die hoof van die Diocesan School for Girls (DSG) in Makhanda. “Skole het, na my mening, ‘n reuse- taak om jongmense se karakter te help ontwikkel sodat hulle ‘n bydrae in die samelewing kan maak.

“Leerders moet daarvan bewus gemaak word dat hul ontwikkeling nie slegs bedoel is om hul eie drome te bewaarheid nie, maar om as probleemoplosser ‘n positiewe invloed in die wêreld te hê,” vertel De Villiers.

Wat sy ervaring by DSG betref, het dit hom ook insigtige gebied in die belang rike rol wat mans in vroue se lewe vervul. “Komende van ‘n meisieskool, bring ek ‘n perspektief op die belangrike rol wat kerngesonde mans in vennootskap met vroue, eerder as in kompetisie met hulle, in die samelewing behoort te vervul.

“Seuns en meisies moet op skool leer om respekvol saam te werk en mekaar te komplimenteer sodat hulle as volwassenes ‘n gedugte span kan vorm om die groot vraagstukke van ons tyd aan te pak en gesonde gemeenskappe te bou.”

De Villiers se pad na ‘n loopbaan in die onderwys het aanvanklik met ‘n ompad begin aangesien hy eers in die regte studeer het. Hy het op 19-jarige ouderdom “diep onder die indruk gekom” dat onderwys sy ware roeping is. “Ek het nooit weer teruggekyk nie!” sê hy.

De Villiers het sy loopbaan in die onderwys by die Hoërskool Swellendam begin en sedertdien by vele ander gesogte, onafhanklike skole klasgegee. Benewens DSG was hy ook by Oakhill School in Knysna, waar hy ook aan die stuur was, en by Bishops Diocesan College in Rondebosch, waar hy Afrikaans en geografie aangebied het.

Volgens De Villiers is sy bestuurstyl een wat gewortel is in deursigtigheid, duidelikheid, redelikheid en integriteit. Hy meen die beste manier om dit te bewerkstellig is om vertroue te bou – ‘n styl wat De Villiers glo tot die ryk erfenis van PRG kan bydra.

“Skole wat al langer as ‘n eeu bestaan, kon slegs so lank oorleef omdat hulle deurentyd by die immer veranderende wêreld waarop hulle jongmense voorberei, aangepas het, maar ook omdat hulle bankvas by hul kernwaardes bly staan het. Ek beskou deel van my taak as die verantwoordelikheid om al die PRG-tradisies aan die toets van ons kernwaardes te onderwerp. So sal ons altyd weet wat omtrent ons skool moet verander, en waarom, en wat mag nooit verander nie.”

Saam met die vakke wat hy aanbied is De Villiers ook ‘n afrigter van rugby, atletiek, roei en rotsklim.

De Villiers is getroud met Suzanne, self ‘n gesoute opvoeder, en hulle het twee kinders – Alida (19) en Jean (17) – wat vanjaar by St. Andrew’s College in matriek is. Wanneer De Villiers kans kry om weg te breek, sal hy in sy gunstelingplek gevind word – die Cederberge.

“Ek is baie lief vir berge, aktief wees, lees, musiek en reis. My gunstelingplek is die Cederberge en ek is op my gelukkigste met ‘n rugsak op ‘n afgeleë voetpad naby die Krakadouw-piek,” sê hy.

Dit is dus geen verrassing nie dat die rektor reeds verskeie van Stellenbosch se bergpaadjies kafgedraf het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article