Hoewel die Stellenbosch-sokkerklub (FC) voortgaan met sy planne om ‘n wêreldklas- “Field of Dreams” by die Van der Stel-sportkompleks te skep, sê die plaaslike sportraad hulle gaan nêrens sonder ‘n nuwe heenkome nie.
Die Van der Stel-sportraad (VDS), wat meer as 20 sportsoorte verteenwoordig, het onlangs gehoor hulle moet teen 31 Maart 2026 uit.
Pieter Lotz, die voorsitter van die raad, sê buiten die verpligting wat die premier-sokkerklub het om die sportsoorte met ‘n nuwe heenkome te help, bestaan baie redes hoekom hulle nie teen volgende Maart uit sal wees nie.
Vrae bly onbeantwoord
Teenkanting teen die Stellenbosch-munisipaliteit se 30-jaar-huurooreenkoms met die sokkerklub was duidelik tydens die openbaredeelnameproses vir die multimiljoenrand-ontwikkeling. Onder die teenkanters was die talle klubs, skole en besoekers wat die multi-gebruik-sportterrein benut.
Ten spyte van petisies en kommentaar van die publiek het die Stellenbosch- munisipale raad die ontwikkeling in Julie 2025 reeds goedgekeur.
Volgens die Stellenbosch FC se planne sal die eeu oue sportterrein gelyk gemaak word om onder meer ‘n 5 000-sitplek-stadion, vier professionele sokkervelde en later selfs ‘n hoërskool vir atlete te bou.
Teenstanders daarvan wil weet presies hoe die premierligaspan die fasiliteit met die gemeenskap en ander sportsoorte sal deel, maar geen duidelik antwoorde is hierop gegee nie.
Volgens Lotz is die VDS-fasiliteit deel van die hele Stellenbosch se geskiedenis en erfenis. Benewens krieket, rugby en sokker, wat op die VDS-sportterrein gespeel word, word ander sportsoorte ook daar bedryf en het spesifieke fasiliteite nodig.
Opknapping is oor die jare gedoen om die VDS-gimnastiekklub in die saal en die honde-opleidingsklub, Vineyard Dog Agility, te huisves.
Planne nie gedeel
“Van der Stel is sentraal vir die hele Stellenbosch-gemeenskap. Die klub is al 106 jaar lank die tuiste van verskeie sportsoorte. Verskeie sporte het hulle reeds vir komende seisoene in Februarie toegewy, wat tot in die winter strek,” vertel Lotz.
Hy sê die klubs bly daartoe verbind om met hul bedrywighede op die VDS-sportterrein voort te gaan.
Een van die voorwaardes vir die tender-ooreenkoms was dat die Stellenbosch-sokkerklub binne ses maande alternatiewe huisvesting aan sportsoorte moet verskaf. Die ses maande het verskryk en Lotz sê die raad het nog geen plan ontvang nie.
“Deel van die probeem is dat Stellenbosch FC slegs vyf sportsoorte erken – rugby, sokker, krieket, muurbal en hokkie. Hokkie maak vir jare nie meer gebruik van die VDS-geriewe nie, hoewel hulle steeds onder die VDS-vaandel is,” verduidelik hy.
Sportsoorte soos gimnastiek sal dus self nuwe geriewe moet vind.
LEES OOK: Five decades of dreams: Van der Stel Gymnastics Club marks golden anniversary
Ander sportkodes
Annette Nel, ‘n mede-stigter van die gimnastiekklub, sê hulle het talle vrae oor hul toekoms. “Sal gimnastiekgeriewe voldoende ondersteuning geniet? Sal die diverse sportsoorte wat daardie terrein tans gebruik, dit steeds billik deel? Dit is nie net tegniese of burokratiese vrae nie, maar vrae oor waardes – gemeenskap, inklusiwiteit en erfenis.
“Die Van der Stel-gimnastiekklub is meer as ‘n plek om te flip, te balanseer en te spring – dit is ‘n plek waar begin nederig is, maar drome groot is; waar klein hande vir die eerste keer stokke vasgryp en later wen daardie hande medaljes; waar nederlaag net nog ‘n les is en oorwinning net nog ‘n stap; waar groei in liggaam en gees plaasvind,” sê sy.
Volgens die Stellenbosch-munisipaliteit is die hervestigingsplanne vir die vyf hoofsportsoorte steeds in wording.
Die munisipaliteit het by navraag bevestig hy werk saam met die Stellenbosch- sport-en-ontspanningsvereniging (SSRA) om Stellenbosch FC te ondersteun om moontlike alternatiewe geriewe vir die betrokke sportkodes te identifiseer. “Die tenderspesifikasies stel duidelik dat die bestaande sportkodes en hul verteenwoordigende liggaam, die Van der Stel-sportraad, erken en geakkommodeer moet word,” het Stuart Grobbelaar, ‘n munisipale woordvoerder, gesê.
“Enige hervestiging wat die goedkeuring en ondersteuning van die betrokke sportkodes én die sportraad moet hê, is onder toesig van die munisipaliteit. ’n Formele hervestigingsplan moet binne ses maande ná toekenning van die tender ingedien word. Die munisipaliteit bly tot ’n ordelike, samewerkende proses verbind om geskikte alternatiewe te finaliseer.”
‘Duidelike kommunikasie’
Maart 2026 is juis gekies sodat die krieketklub sy seisoen by die VDS-sportkompleks kan voltooi.
Indien die hervestigingsplan teen einde Maart nie voltooi is nie, “bly die munisipaliteit daartoe verbind om te verseker dat oefen- en wedstrydvelde by alternatiewe lokale in Stellenbosch aan die [vyf] buitesportsoorte toegeken sal word sodat hulle ten volle voorbereid kan wees om gedurende 2026 mee te ding” het die munisipaliteit aan die sportraad verduidelik.
Grobbelaar sê die VDS-sportraad was deur die hele proses deel van gesprekke rakende die hervestiging.
Die hervestiging van die bestaande sportkodes was juis deel van die vereistes vir die langtermynverhuring om die geriewe in ’n moderne sportkompleks te ontwikkel.
“Die sportraad het albei tender-uitklaringsvergaderings bygewoon, waar die moontlikheid van hervestiging duidelik aan alle betrokkenes gekommunikeer is – veral gegewe die omvangryke finansiële investering wat die tender vereis.”
Planne op dreef
Volgens Grobbelaar is ooreengekom dat die munisipaliteit individueel met die rugby-, muurbal- en krieketklubs oor alternatiewe geriewe sal vergader.
“Hierdie opvolgvergaderings word tans met die sportkodes en die tenderaar geskeduleer. Die proses om die finale hervestigingsplan te voltooi, is dus aan die gang en beweeg volgens die ooreengekome roete,” sê Grobbelaar
Hoewel Stellenbosch FC geen van Eikestadnuus se vrae beantwoord het nie, het Liam Bekker, ‘n klubwoordvoerder, gesê: “Binne die raamwerk wat deur die munisipaliteit gestel is, bly Stellenbosch FC verbind tot die belegging in en die transformasie van die Van der Stel-sportkompleks in ‘n vooraanstaande sport- en onderwysfasiliteit, wat inklusiewe ekonomiese groei sal ondersteun en ongekende geleenthede vir talentvolle sportlui sal skep.”
Bekker sê die klub se visie vir Stellenbosch se “Field of Dreams” is op dreef.
* Terugvoer van die Stellenbosch-munisipaliteit is op Woensdag 3 Desember ná Eikestadnuus se druktyd ontvang. Die kommentaar is by hierdie aanlyn weergawe van die berig gevoeg.





