‘n Vriend duisend met ‘n liefde vir mense – dis hoe Lyntin Carstens onthou sal word.
Carstens (36) is die afgelope naweek dood nadat hy in ‘n botsing op die R44 naby die N1-afrit betrokke was.
Carstens was welbekend vir sy liefde vir motors en lid van die Stellies Car Enthusiasts. Dié liefde het hy van sy werktuigkundige-pa geërf. Saam het pa en seun destyds gereeld saam aan motors gewerk.
Gheata Oliver, Carstens se jonger suster, sê haar ouboet was ‘n staatmaker, vriendelik en was beskermend oor sy geliefdes.
Volgens sers. Wesley Twigg, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, het die botsing tussen die twee voertuie Saterdag (8 November) omstreeks 22:30 gebeur.
Hy het bevestig albei bestuurders is op die toneel dood verklaar. ‘n Saak van manslag word tans ondersoek.
Dié botsing volg kort op die motorongeluk op dieselfde pad waarin ‘n bejaarde egpaar van Klapmuts – Thomas en Anne-Marié Rossouw – op Saterdag 25 Oktober oorlede is.
LEES OOK: Tragedie op R44: Bejaarde egpaar sterf op pad huis toe
As ‘n eerbetoon het vriende en familie van die Idasvalleier gister (Woensdag) ‘n “laaste rit” vir Carstens gehou met ‘n motor-konvooi van Idasvallei tot by die plaaslike VGK.
Carstens laat sy vrou, Marchelle en seun Kaylib (11) agter. Die begrafnis vind Vrydag 14 November om 10:30 vanuit die Volkskerk van Afrika in Idasvallei plaas.
- Enigiemand met inligting oor Saterdagaand se ongeluk word versoek om CrimeStop by 08600 10111 te bel.





