‘n Reuse-boom wat se takke wyd in die Kylemore-gemeenskap strek en onder wie se takke geslagte lewenslesse geleer het – dit is hoe Johannes “Diekie” Brandt beskryf word.
Vir die meeste wat hom ken, is hy “Meester Brandt”, maar vir diegene wat hom ‘n vriend noem, is die 90-jarige Kylemore-inwoner net Diekie.
Brandt het verlede Vrydag (13 Maart) sy 90ste verjaarsdag met ‘n spesiale kerkdiens in die VG kerk saam met vriende, familie en oud-kollegas van die Laerskool P.C. Petersen gevier.

“Jy [Diekie] sal die eerste een wees om te sê hierdie viering is slegs deur die Here se genade,” het ds. Jaco Coetzee, wat die diens gelei het, gesê.
Brandt is 90 jaar gelede op die plaas Shangarry teen die hange agter Kylemore gebore en het in die dorp skoolgegaan. Nadat hy die Hoërskool Lückhoff verlaat het, het hy as arbeider op die plaas gewerk.
Dit was hoenders wat uiteindelik Brandt se lot in 1955 verander het.
“Daar was ‘n man op soek na hoen- ders vir Kersfees en hy is gesê is om by die Rainbow End-plaas te gaan vra waar hy my pa raakgeloop het. Hy was so beïndruk met my pa se maniere en gesprekvoering dat hy teruggekom het na die plaas met die aanbod om vir my pa se studies te betaal,” vertel Diekie se seun, Marius Brandt.
Danksy mnr. Cupido se borgskap was Brandt op die pad om “Meester” te word. Hy is na die onderwyskollege Söhnge in Worcester en het in 1957 sy prakties in Kylemore kom doen.
Marius vertel namate die dorpie van Kylemore uitgebrei het, het die behoefte vir ‘n skoolgebou groter geword.
In 1961 sluit die Ou Apostoliese kerk sy deure vir drie weke en met twee busse vol lidmate het hulle hul saak aan die owerhede gaan stel: Kylemore het ‘n skool nodig en hulle het reeds ‘n onderwyser en ‘n gebou (hul eie kerk), vertel een van die destyde lidmate, Ma Joyce Adams (92).
Jare later praat Brandt steeds met groot waardeering oor dié gemeente se opoffering. Brandt was terug in sy gemeenskap en het sy hele onderwysloopbaan in Kylemore deurgebring.
Eers was hy onderwyser, onder die hoofskap van P.C. Petersen, later adjunkhoof en daarna, van 1979 tot 1993, hoof van sy voormalige laerskool.
“Ek het twee keer pak gekry by my pa. En ek het sommer twee ekstra houe bygekry, want hy het gesê ek moes nie daar wees nie,” skerts Marius.
Oud-leerders onthou 13 Maart, want op die hoof se verjaarsdag het die skoolklok vroeg gelui en dan gaan “almal huistoe!” Selfs die skoolinspekteur se sessies is op daardie dag ingekort.
Stryd teen verskuiwing
Ten spyte van sy enorme bydrae tot Kylemore se onderwys, is dit die saga van Kylemore en Johannesdal onder die Groepsgebiede-wet wat as Brandt se nalatingskap uitstaan.
Op 8 Julie 1970 was daar ‘n klein advertensie in Die Burger wat aangekondig het dat daar ‘n voorstel is om die inwoners van Kylemore, grotendeels bruinmense wat op plase werk, onder dié apartheidswet te verskuif.
Almal wat vir jare lank hul tuiste in die vallei gehad het, sou hul goed moes vat en na buurte soos Hanover Park trek.
Die Kylemore Openbare Sake Vereniging, waarvan Brandt aan die stuur was, het toe gespook om amptelik kapsie teen die voorstel te maak. “Ek was net vyf, maar ek onthou die aande wat ‘n motor voor ons deur gestop en die toeter geblaas het vir my pa. Hy het dan uitgeloop, vir ‘n rukkie gesels, vir my ma kom sê hy gaan nou en het dan ure later teruggekom,” onthou Marius.
Hierdie laataandontmoetings en vele vergaderings was alles om die Kylemore-inwoners se saak te stel dat hulle nie van hul dorp verskuif moes word nie.
Hoewel die afdelingsraad van Stellenbosch en vele plaaslike boere ten gunste van die verskuiwing was, was daar ook boere wat inwoners goedgesind was en gehelp het.
Brandt het so noukeurig boekgehou van elke vergadering en elke brief van dié tydperk dat die briefwisseling eintlik self die verhaal vertel.
‘Getuienis van god se belofte’
Op 9 Oktober 1970 moes hy Kylemore en Johannesdal voor die raad verteenwoordig om die voorlegging te doen.
In die dokumente kan jy die verskillende weergawes van die voorlegging sien.
Dansky goeie voorbereiding kon Brandt nie net sy voorlegging doen nie, maar ook antwoorde bied teen die boere se beweringe dat Kylemore ‘n vlei en “te nat vir ontwikkeling” was, en betoog hoekom die inwoners hier moes bly, ten spyte van hul gebrek aan geld, om die dorpie te ontwikkel.
Die voorlegging vir die Kommitee van die Groepsgebiederaad was egter slegs die begin van die stryd en dit het uiteindelik drie jaar geneem voor die amptelike proklamasie verskyn het dat Kylemore en Johannesdal aan sy sowat 2 500 “anderskleurige” inwoners behoort.
Ná sy aftrede in 1993 was Brandt steeds bedrywig in onder meer die kerk, Kansa en by die plaaslike bejaardesgroep. Sy vrou, Elizabeth, is in 2011 oorlede.
In verlede Vrydag se kerkdiens het Piet Swartz vertel hoe hy en Brandt in Sub B (gr.2) ontmoet het en sedertdien vriende is.
Saam het hulle skool voltooi, vir die Sevens River-rugbyklub uitgedraf en beide het hul gades by die Stellenbosch-hospitaal ontmoet.
Swartz het ‘n roerende lied met sy mondorrel vir Brandt uitgevoer.
“My pa het ‘n onwrikbare geloof in sy Skepper en het altyd gesê hy is ‘n lewende getuienis van God se belofte,” vertel Marius.







You must be logged in to post a comment.