Die Stellenbosch-krieketklub se voorsitter, Brian Minnis, voel positief oor die krieketseisoen wat voorlê. Foto: Yaël Malgas

Die warm weer is op pad. Dit beteken lang dae langs die krieketveld is amper hier en die Stellenbosch-krieketklub skud sy vere reg vir die komende seisoen.

Volgens Brian Minnis, die voorsitter van die klub, wek die voortbestaan van krieket in Stellenbosch kommer. Hy sê egter baie kan gedoen word om die oorlewing van die sport aan te wakker. Deel hiervan is goeie voorbereiding. Minnis sê die klub sit reeds skouer aan die wiel om die juniors, drie senior- manspanne en die vrouespan vir die krieketseisoen reg te kry.

“Ek is positief oor wat voorlê,” het Minnis vandeesweek aan Eikestadnuus gesê.

Die Stellenbosch-krieketklub het onlangs Yaasir Johnson en Minnis se seun, Peter, aangestel om aan die stuur van die vrouespan te wees. Op hul beurt is Taahir Fredericks en Ashley Dhelmini onderskeidelik as afrigters van die senior en jeugspanne verwelkom.

“Jy kan nie voortuitbeplan sonder jeugontwikkeling nie,” sê Minnis. “Daarom fokus die klub reeds vir langer as 10 jaar om die liefde vir krieket onder die dorp se jonges te vestig.”

Minnis bieg egter deesdae raak dit al moeiliker. “Onderwysers is besig en ek het simpatie vir alles wat hulle doen. Daarom het ons na die omliggende skole begin uitreik om saam met hulle te werk. Boland het ‘n lang geskiedenis van bobaas-krieketspelers oplewer wat tot die hoogste vlak – om vir die Proteas te speel – gevorder het.

“Ons sukkel egter om die inkoop van ouers te kry. Daar is die persepsie dat krieket ‘n té duur sport is, en ja, dit is duur, maar ons uitnodiging aan ouers is om die kinders na ons te stuur. Ons hou hulle uit die strate en met die min hulpbronne wat ons het, sal ons ‘n plan maak.”

Minnis sê hulpbronne bly ‘n uitdaging, juis omdat die Stellenbosch-krieketklub ‘n gemeenskapklub is.

Hy meen egter met ‘n goeie bestuurspan en ondersteuning kan die sport groot geleenthede aan beide jong en gevestigde spelers bied.

Die klub poog om vanjaar krieket-klinieke en weer ‘n skole-toernooi aan te bied. “Hier is so baie ongeslypte diamante in ons midde. Ons junior spanne het spelers van o.11 tot o.17 en ons beplan om die oefeningskedule nog meer uit te brei en te bou op verlede jaar. Dit is ook hierdie spelers wat ons stadig gereed maak vir die senior spanne, maar dit is nie net ‘n kwessie van ouderdom nie. Om oor te gaan na die seniors beteken jou potensiaal is deur vaardigheidsontwikkeling opgebou.”

Krieketliefhebbers wat by die klub betrokke wil raak, hoef nie net op die veld uit te draf nie. Minnis nooi gemeenskapslede wat by die klub se administratiewe take of sosiale media betrokke wil raak, om by hul aan te sluit. Hy sê ten spyte van die struikkelblokke sien hy uit na wat vir die klub voorlê.

“Indien elke speler in die komende seisoen op hul vorige vertoning verbeter, is dit reeds ‘n sukses. Die klub poog om aktiewe lede te bemagtig.”

Die liga begin amptelik in Oktober.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article