Die Stellenbosch-munisipale raad sal môre (Vrydag 12 September) weer sit oor die toekoms van ‘n senior amptenaar wat beskuldig word van rassisme en ‘n geskiedenis van die teister van wit amptenare.
Dit volg nadat die DA die afgelope Vrydag (5 September) ‘n U-draai gemaak het op ‘n noodraadsvergadering toe die regerende party gehoor het hy het geen wetlike mag om Alexander Kannemeyer, die waarnemende direkteur van korporatiewe dienste en senior menslikehulpbronnebeampte van die munisipaliteit, te skors nie.
Die DA-hoofsweep, die raadslid Patricia Crawley, het aanvanklik ‘n mosie by die raad ingedien wat onder meer die skorsing van Kannemeyer geëis het, nadat ‘n video waarin hy beweerde rassistiese uitlatings teenoor wit mans gemaak het, verlede week die lig gesien het. In die video kan gehoor word hoe die senior amptenaar aanvoer in die meeste gevalle is dit wit mans wat die beste vaar tydens die aansoekproses en dus word die meeste senior poste deur wit mans gevul. Kannemeyer het sy ongelukkigheid hieroor op die aanlyn vergadering in 2023 uitgespreek en aangevoer dat die lewe moeilik gemaak kan word vir wit mans tot hulle dan bedank.
Sedertdien het die unie Solidariteit ‘n memorandum uitgereik waarin die uitvoerende hoof, dr. Dirk Hermann, sê Kannemeyer het ‘n geskiedenis van wit amptenare boelie en teister. Solidariteit het ‘n werknemer verteenwoordig wat in November 2021 afgedank is en sy afdanking na die Suid-Afrikaanse Plaaslike Bedingingsaad verwys. Mervin Williams, ‘n senior regsadviseur vir die munisipaliteit, het Vrydag bevestig Kannemeyer is destyds deur die munisipaliteit verdedig, maar het uiteindelik die saak verloor.
Williams het die raad op die vergadering gemaan om Kannemeyer nie te skors nie aangesien hy ‘n administratiewe pos beklee en nie ‘n politieke pos nie, en slegs deur die munisipale bestuurder, Geraldine Mettler, geskors kan word. Mettler was op verlof ten tyde van Vrydag se raadsvergadering.
Die ANC se raadslid Monwabisi Rataza het die raad gewaarsku om nie ‘n presedent te skep deur by administratiewe sake betrokke te raak nie. Hy het die Wet op plaaslike regering: Munisipale stelsels, voorgehou en gesê die raad se bevoegdheid geld slegs vir die topbestuur. Kannemeyer was ten tyde van die video-opname slegs die senior menslikehulpbronnebeampte. “Hierdie is ‘n sensitiewe saak. Daar is wetlike voorskrifte vir interne administratiewe sake en dit is uiteindelik in die munisipale bestuurder se hande. Hierdie raad het geen seggenskap oor die administrasie se doen en late nie. Wat nou gebeur, is slegs ‘n politieke foefie,” het Rataza aangevoer.
Die burgemeester, Jeremy Fasser, het egter aangevoer die video en Kannemeyer se uitlatings het die munisipaliteit se beeld geweldige skade aangedoen en dus het die raad geen keuse as om teen die amptenaar op te tree nie.
Die GOOD-party, by monde van die raadslid Marius van Staden, het sy eie mosie ingedien, waarin onder meer geëis is dat Kannemeyer onmiddellik uit sy amp verwyder word, ‘n onafhanklike ondersoek na die gebeure plaasvind, asook ‘n ondersoek om te bevestig hoekom niks gebeur het nadat ‘n klagte na afloop van die 2023-vergadering teen Kannemeyer ingedien is nie.
Die mosies is egter afgekeur.
Die DA se gewysigde mosie is uiteindelik met 27 stemme aanvaar. Ingevolge hierdie mosie is Kannemeyer sewe dae gegee om skriftelik terugvoer aan die raad te verskaf hoekom hy nie geskors moet word nie.
Daarmee saam moet Mettler ‘n onafhanklike kundige aanstel, wat ‘n onafhanklike ondersoek na Kannemeyer se optrede van stapel moet stuur. Hierna moet ‘n verslag oor die ondersoek binne 30 dae saamgestel word, wat weer binne sewe dae van voltooiing aan die munisipale raad voorgelê moet word.
Dit blyk egter die sentiment onder vele Stellenbossers is dat Kannemeyer se kop lankal al moes gerol het.





