Elizabeth Japie wat van die moord op haar sesjarige susterskind aangekla word, het nuwe regsverteenwoordiging.
Dit volg nadat Japie, van Jamestown, se voormalige regsverteenwoordiger aan die saak onttrek is ten gunste van ‘n meer ervare verteenwoordiger weens die “ingewikkeldheid” van die saak teen Japie.
Die hof het vroeër gehoor dat die 57-jarige se suster haar seun Zandré na haar in Stellenbosch gestuur het in die hoop om plek in ‘n plaaslike skool vir hom te kry.
Na bewering het Japie egter die kind daagliks by die huis gelos terwyl sy werk toe is. Zandré is ‘n paar dae ná sy aankoms in die Eikestad, op Vrydag 3 Mei 2024, in sy tannie se huis in Jamestown dood aangetref.
Die hof het in Junie gehoor die staatspatoloog, wat die lykskouing uitgevoer het, was só geskok deur sy bevindings na Zandré se dood dat hy die departement van maatskaplike dienste gekontak en aangeraai het om Japie se 12-jarige seun uit haar sorg te verwyder.
Zandré is voor sy dood vermoedelik met onder meer ‘n knopkierie en ‘n sambok geslaan.
Japie se nuwe regsverteenwoordiger het Maandag 22 September nie die beste indruk op die hof gemaak nie, omdat sy by navraag nie al die nodige dokumente, soos deur die wet vereis, kon bied dat sy ‘n praktiserende regspraktisyn is en aan watter regsfirma sy verbonde is nie.
Die hof het haar oor die vingers getik en gewaarsku om al die nodige dokumente met Japie se volgende verskyning op Vrydag 3 November te verskaf.
Japie bly in aandhouding.




