'n Voorbeeld van 'n brief wat oud-skoolf Aldon April destyds aan ouers uitgereik het. Foto: Yaël Malgas
‘n Voorbeeld van ‘n brief wat oud-skoolf Aldon April destyds aan ouers uitgereik het. Foto: Yaël Malgas

Die 1985-matrikulante van die Hoërskool Cloetesville het onlangs byeengekom en ‘n reünie saam met oud-onderwysers en hul oud-skoolhoof, Aldon April, gevier.

Die alumni het op Saterdag 28 Februarie in Rietenbosch Primêr se skoolsaal gekuier en selfs ‘n boodskap ontvang van twee van hul klasmaats wat deesdae oorsee woon en werk. Een van hulle was Jaqueline Oliphant wat deesdae haarself in die Virgin-eilande van Amerika bevind. Die oud-hoofmeisie, Audrey Rasmus, kon ook nie die geleentheid bywoon nie en het ‘n kort video-boodskap met haar oud-klasmaats gedeel.

Freddie Booysen, destyds die hoofseun, het sy klasmaats aangespoor om terug te ploeg in die Cloetesville-gemeenskap soos daar eens in hulle as jongmense belê is. “Die gemeenskap waaruit ons kom moet voordeel trek uit ons. Daarom is ons van plan om ‘n alumni-groep op die been te bring wat die skool kan ondersteun. Ons moet trots wees om met die skool geassosieer te word en saam help bou aan die skool se nalatenskap,” sê Booysen.

Hoërskool Cloetesville 1985 reünie

Dié sentiment is gedeel deur die huidige skoolhoof, Brandon du Plessis, wat die alumni uitgenooi het om hul lewenservaring en kundigheid vandag te deel.

“Die oud-leerders moet altyd voel hulle is deel van die skool. Hulle is ‘n belangrike komponent van die skool, saam met die oud-onderwysers en die hoofde. Meneer April is legendaries. Dit is belangrik om hierdie brûe altyd te probeer bou,” meen Du Plessis. Hy sê die oud-leerders moet nooit voel hulle het nie ‘n belangrike bydrae om by die skool te lewer nie, net omdat hulle nie meer in die skoolbanke sit nie.

Saam met die vieringe was daar ook effense hartseer en eer is betoon aan klasmaats wat oor die vier dekades gesterf het. Kerse is aangesteek ter nagedagtenis aan diegene.

April sê dit is net God se genade wat homself en die oud-leerders uitgespaar het om 40 jaar later reünie te kon hou. Hy het vertel van die skool se begin in 1979 met min, slegs “‘n paar banke, tafels, stoele, boeke en ‘n stoor”. Die skoolgeld vir die jaar was toe net R1 of R2 en April onthou hoe smiddae letterlik sente getel is.

Hoërskool Cloetesville 1985 reünie
Die oud-skoolhoof Aldon April aan die woord by die 40-jaar-reünie. Foto: Yaël Malgas

“En tog het ons deur dit alles gekom,” vertel hy. “Ons het so baie gedoen – gesing, gespeel, getoer en oral rondgery, sodat julle na Wellington, Worcester en die Paarl kon gaan. En dit het ons duur gekos, maar ek wou nie hê ons moes Kaap toe gaan nie, want daar sou julle net die verkeerde dinge leer.

“Ons het die wêreld gaan verken en sokker en rugby gaan speel en hulle het ons pakgegee [op die veld], maar ons het dan harder gespeel en vandaar ook ons leuse ‘Net die beste’. Solank julle elke oomblik geniet het,” meen die oud-skoolhoof.

Hy het ook vertel van verskeie agter-die-skerms-oomblikke waarvan die leerders nooit eens te hore gekom het nie, soos ‘n bomdreigement wat hy een middag, alleen in sy kantoor, ontvang het.

Die onderhoofmeisie René Ngwenya, wat lid was van die reëlingsgroep, meen die reünie was ‘n sukses.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article