nwoners "koop" alles van pasta tot toiletpapier nadat hulle hul hernubare afval oorhandig het. Foto: Yaël Malgas
Inwoners “koop” alles van pasta tot toiletpapier nadat hulle hul hernubare afval oorhandig het. Foto: Yaël Malgas

Die gemeenskap van Cloetesville het oor ‘n tweedaagse tydperk byna twee ton herwinbare afval versamel en vir basiese kruideniersware geruil om hul koskaste aan te vul.

Die Stellenbosch-munisipaliteit se gewilde Swop Shop is Donderdag 20 November vir die eerste keer in die buurt aangebied.

Die reaksie uit die gemeenskap was so oorweldigend dat die munisipaliteit die volgende dag terug by die Eikesaal was met ‘n rommeldrom en hul mobiele snoepie.

“[Die rommel versamel] was ‘n ongelooflike prestasie gedryf deur die groot opkoms van entoesiastiese inwoners – veral die talle jongmense wat gretig is om deel te neem, te leer en huishoudelike goedere te koop,” vertel Stuart Grobbelaar, ‘n munisipale woordvoer­der.

LEES OOK: Kom ruil afval vir kos by Stellenbosch se ‘swop shop’

Inwoners staan gereed met hul hernubare afval om aan beamptes van die Stellenbosch-munisipaliteit te oorhandig tydens Cloetesville se eerste Swop Shop. Foto: Yaël Malgas
Inwoners staan gereed met hul hernubare afval om aan beamptes van die Stellenbosch-munisipaliteit te oorhandig tydens Cloetesville se eerste Swop Shop. Foto: Yaël Malgas

Karton, blikkies, glasbottels en ander herwinbare afval is aan munisipale beamptes oorhandig in ruil vir kaart­jies. Inwoners het met dié kaartjies verskeie basiese kruideniersware by die snoepie “gekoop”.

Geblikte boontjies, ingemaakte vis, visolie, pasta, tee, kerse en toiletpapier was onder die daaglikse noodsaaklikhede wat inwoners kon ruil. Lekkernye soos NikNaks en koekies was ook beskikbaar.

“Hierdie is regtig ‘n goeie inisiatief. My man is in die tronk en ek het twee kinders, dus kan ek nou ‘n sappie vir my dogter kry. Sy hou veral van sap. En dan wil ek mieliemeel kry, dan weet ek daar is darem iets vir vanaand. Ek wil ook ‘n kers kry, want ons het nie elektrisiteit nie,” het Bernadine Pienaar (36) vertel.

Wilma Khan, ‘n lid van die Cloetesville-buurtwag se Flat Watch, sê baie inwoners in die buurt trek swaar en baie het nie geld om selfs basiese krui­deniersware te koop nie. “November is gewoonlik ‘n maer maand, so nou het hulle die geleentheid om die koskassie aan te vul,” sê Khan.

Kitsnoedels, koffie en suiker was veral gewild onder jonk en oud by die rommel-vir-kos-ruilwinkel (swop shop).

Die Stellenbosch-munisipaliteit probeer keer dat alle huishoudelike afval by die munisipaliteit se enigste stortingsterrein in Devonvallei beland. Die laaste sel van die stortingsterrein is vanjaar in Februarie geopen.

LEES OOK: New landfill cell opened

By dié geleentheid het Clayton Hendricks, die senior bestuurder van afvalbestuur, verduidelik: “Die doel is om ‘n sel so lank as moontlik te laat hou, maar die werklikheid is dat die tydsraamwerk vir elke sel al hoe korter word. Ons het die gemeenskap se hulp nodig om te kyk na die vermindering van afval wat na die stor­tingsterrein gebring word.”

Met die opening het die laaste sel 1,1 miljoen kubieke meter lugruim gehad.

“Hierdie inisiatief, wat al vir etlike jare deel van ons gemeenskap is, word nou weer van stapel gestuur en uitgebrei met die doel om elke gemeenskap in Stellenbosch te bereik. Ruilwinkels (swop shops) het reeds in die Klapmuts-gebied, Khayamandi en Cloetesville plaasgevind, met planne om dit in die komende maande na Idasvallei, Jamestown, Raithby, Pniël en Groendal uit te brei,” het Grobelaar gesê.

‘Iets vir die koskassies’

Die vriendinne Feroza Abrahams (37) en Fatima Dixon (38) het aan Eikestad­nuus bevestig indien die munisipaliteit weer ‘n swop shop hou, sal hulle gewis weer deelneem. Dié twee het met arms vol krui­denierware huis toe gekeer nadat hulle sakke rommel oorhandig het.

Volgens die raadslid Elsabe Vermeulen is dit “goed om te sien hoeveel inwoners vroegoggend reeds sakke hernubare afval ingehandig het”.

Met verwysing na verskeie inwoners het Vermeulen gesê sommige is so gefokus op hul alkoholverslaafheid dat hulle nie seker maak hul kinders het kos nie.

“Nou is daar darem iets vir die koskassies. Deur projekte soos hierdie leer ons ook ons jongmense dat hulle hulself kan bemagtig en om selfstandig te wees. Hulle het nie net afval van die huis af gebring nie, maar goed in die strate ook opgetel,” het sy bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article