Die 23ste Suidoosterfees word vanjaar van Woensdag 29 April tot Sondag 3 Mei in Kaapstad aangebied.
Die 2026 tema is “Tuiste” en sluit aan by die Moederstad wat reeds meer as twee dekades lank die tuiste van die fees is – asook by die gevoel van behoort en samehorigheid wat die fees jaarliks aan feesgangers, borge, kunstenaars en teaterlui bied.
Die fees brei vanjaar verder uit as die Kunstekaap, die tradisionele middelpunt van feesaktiwiteite, met verskeie nuwe venues wat benut word.
“Kort voor lank” is een van Suidoosterfees se gewildste programafdelings – ‘n fees binne ‘n fees waar uiteenlopende stories in treffende 30-minuut-vertonings lewe kry.
Vanjaar dien hierdie platform weer as ‘n broeikas vir innoverende vernuwing, en bied dit aan feesgangers ‘n toeganklike manier om nuwe stemme, genres en vorme van teater te ontdek.

Adam Small vereer
‘n Onbetwiste hoogtepunt op die program is Jakobregop – die première van Hennie Aucamp se heerlik ondeunde saterspel wat reeds in 1988 in Sjampanje vir ontbyt verskyn het, maar nog nooit voorheen opgevoer is nie.
Hierdie slegs-vir-volwassenes komedie met Dean Balie, Marcel Meyer en Anzio September, en onder regie van Fred Abrahamse, speel sensueel, stylvol en skreeusnaaks met temas soos menslike begeerte, die weë van die ouderdom en die magsverhoudings tussen mense.
Nog ‘n spogitem op die program is “Adam Small 90” – ‘n reeks nuwe kort tekste waarin Small se werk herverbeel word deur jong skrywers en spelers van die Proscenium-dramakompetisie.
In Ongekarteerde drome, Langs die pad uitsak, Tussen vlugte en Waar oekal djy belong word temas soos behoort, drome, identiteit en verlies ondersoek teen die agtergrond van ‘n samelewing wat steeds deur ongelykhede gekenmerk word. Hierdie reeks bring jong kunstenaars in kreatiewe gesprek met een van Suid-Afrika se mees invloedryke literêre figure.
Ingrid Jonker se enigste toneelstuk kry nuwe lewe in ‘n Seun na my hart, onder regie van Marí Borstlap, terwyl die digteres en aktrise Veronique Jephtas in Ouma slaan ‘n ses hemel toe geloof, rou en verlies in ‘n poëtiese, intieme solovertoning ondersoek.


Musiek en meer
Op musiekfront staan Stadskoor, -Choir, -iKwayara sing diva-pop uit as ‘n uitbundige produksie waarin ikoniese poptreffers uitgevoer word met ryk koorharmonieë, energieke vertolkings en ‘n vars, kontemporêre klank.
In Eenmanstuk neem De Klerk Oelofse feesgangers op ‘n speelse en verrassende reis deur ‘n versameling eenbedrywe, mimiek en pantomime. Met minimale hulpmiddels en ‘n oorkoepelende fokus op die menslike verbeelding word die verhoog ‘n oop speelveld waar teater as medium self ondersoek en bevraagteken word.
Humor en sosiale kommentaar loop hand aan hand in Baggage (Jurgen McEwan en Aviwe Ngabom), Flip-flop (Deon Lotz en Gary Naidoo) en Pick a Struggle (Zach Esau en Roland du Preez).
Kabaret en musiek blom in Karamonkie met Bianca Flanders, André Schwartz bring hulde aan mentors en kunstenaarvriende in Net ‘n bietjie liefde en Corneil Müller skep in Verweef ‘n intieme klankwêreld waarin stem, tjello en klavier saamvloei.
Die studente van die Waterfront-teaterskool stel hul talent met sang, toneel en dans ten toon in Encore en Northlink Kollege-studente is ook in The Magic of Musicals: From Good to Great op die verhoog.

Dansproduksies soos Sbo Ndaba’s Bolero, Unmute en Sands of Time fokus op die liggaam as draer van storie, emosie en betekenis.
Die “Kort voor lank”-program word verder verryk deur Opera Trios: Love Triangles, Trysts and Intrigue (Opera UCT), Op reis (Luna Paige), Songs van die hart (Jodi Jantjies en Karen Petersen), The Tramp (Bite-sized) deur Wêla Kapela en A Victor Borge Taster (Winand Grundling).
Die volledige feesprogram is by hier beskikbaar en kaartjies vir alle vertonings kan deur Webtickets bespreek word.




You must be logged in to post a comment.