Haar dogter, Isabella (11), het Janine Bantam-Titus geïnspireer om ‘n toiletware-insameling vir kinders te begin.

Dogter inspireer insamelingsprojek om kinders van Stellenbosch te help

Haar dogter, Isabella (11), het Janine Bantam-Titus geïnspireer om ‘n toiletware-insameling vir kinders te begin.

Dit het met ‘n eenvoudige daad van vriendelikheid begin.

Toe Isabella Titus (11) op haar gr.5- skoolkamp haar toiletware aan ‘n maatjie skenk wat niks gehad het nie, kon haar ma, Janine Bantam-Titus, nie net toekyk nie.

Hoewel sy en Isabella kort tevore nog ‘n woordjie gehad het oor haar nalatigheid om die toiletware agter te laat, het daardie oomblik alles verander.

“Ek het vir ‘n paar minute net na haar gestaar,” sê Janine. “My 11-jarige dogter het my herinner dat ons dikwels so behep is met ons eie tekortkominge dat ons vergeet om dankbaar te wees en uit te reik na dié wat nie so bevoorreg is nie.”

Uit daardie vonk is Janine se Sanitêre Produkte & Toiletware Insameling gebore – ‘n inisiatief wat reeds lewens raak en ‘n gemeenskap saamtrek om kinders se waardigheid te herstel.

Elke pakkie verteenwoordig 'n daad van liefde vir 'n kind wat dit broodnodig het.
Elke pakkie verteenwoordig ‘n daad van liefde vir ‘n kind wat dit broodnodig het.

Kankerstryder

Janine se pad na hierdie roeping was nie sonder pyn nie. Fase 3 baarmoederkanker is twee jaar gelede by haar gediagnoseer – woorde wat soos ‘n doodsvonnis gevoel het.

“Die woord ‘kanker’ het my tot stilstand gebring. My eerste gedagte was my kinders, veral geestelik. Maar ek prys God vir die ondersteuning van vriende, familie en kollegas. Daar was dae van swaarkry, maar ek is nie dood nie. Ek haal asem, beweeg, ervaar die lewe.”

Haar ma (78) was veral bly om haar dogter weer vol energie te sien. Dit is dié energie wat Janine nou gebruik in haar jongste roeping – om ander te dien.

Die besluit om haar pos as aptekerassistent te verlaat, het al lank gekarring. Sy het haarself altyd tot haar werk oorgegee – haar middagetes by die werk geëet, vroeg gekom en laat gegaan. Mettertyd het die vervulling begin wegsak.

“Op die dag wat ek bedank het, het ek in frustrasie na God uitgeroep: ‘Wat nou? Wat moet ek doen?’ En ek kon duidelik hoor, ‘gaan’! Ek het my foon gegryp, my bedanking getik en dit gestuur. Vanaf daardie oomblik het ek ‘n bonatuurlike vrede ervaar,” vertel Janine.

Sy glo dat God haar reeds voorberei het vir wat by Isabella se kamp sou gebeur – en dat die bedanking haar die ruimte gegee het om haar volle aandag aan die inisiatief te gee.

Skenkings welkom

In samewerking met Idasvallei Primêr en met die goedkeuring van die waarnemende hoof, Zachary Snyder, het Janine en die projek reeds verskeie gesinne en kinders bereik.

Die plan is om voor skole vir die Junie-eksamen sluit nog meer oorhandigings te doen. “Die gesiggies van kindertjies wat vir die eerste keer hul eie waslappie en tandeborsel ontvang… dit skep ‘n ‘knop-in-die-keel’-oomblik,” sê Janine sagkens. “Dit laat my vra: watter reg het ons om ontevrede te wees oor dit wat ons nie het nie?”

Donasies stroom in, selfs van mense wat nie veel kan bekostig nie, maar tog ‘n paar items bydra. Vir die kinders beteken dit dat daar vreemdelinge is wat omgee. Janine se broer het plakkate ontwerp wat wyd op sosialemedia-platforms gedeel word.

En Janine se boodskap aan die gemeenskap is eenvoudig: “Alleen kan ons nie, maar saam kan ons ‘n hengse verskil maak.”

  • Kontak Janine op WhatsApp by 078 498 5106 vir nog inligting of om te skenk.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article