Jamestown is ‘n dorp met ‘n ryk geskiedenis en een waar inwoners mekaar nog op die naam kan groet, maar soos talle van die dorpies aan die buitewyke van Stellenbosch is die gemeenskap besig om te verander weens die toevloei van sekuriteitskomplekse en ontwikkelings.
As deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees se Diskoers-reeks het die gespreksleier René van Rooyen asook Dale Simons, Arnold Okkers en Amy Levendal – almal inwoners van Jamestown – dié dorpie se geskiedenis sowel as toekoms bespreek.
Jamestown is langer as 120 jaar gelede as ‘n landelike dorpie gestig met die meeste van sy inwoners wat op die nabye plase gewerk het.
LEES OOK: Jamestown-inwoners lug hul griewe uit met optog op Werkersdag

Almal ken mekaar
Die dorpie se inwoners het onder die destydse Apartheidsregering selfs gedwonge verskuiwings vrygespring nadat boere in die omgewings kapsie gemaak het teen die verskuiwing van hul vaardige werksmag.
“Daar is soveel van gemeenskappe rondom Stellenbosch wat hulle self afvra waar is ons nou – ‘n eeu later? Hoe lyk ons 30 jaar later [ná demokrasie]? En hoe maak ons sin van ons lewens?” sê Simons.
Hy sê oor sy mede-paneellede dat hul almal se oupas mekaar geken het, en dit is grootliks die gemeenskap van Jamestown – families wat geslagte lank hier geleef en werk het, maar nou weens ontwikkeling, nuwe inwoners en gentrefikasie besig is om te verander.
Volgens Okkers was die dorp grootliks ‘n bruin- en Christen-gemeenskap, maar het oor die afgelope 27 jaar in ‘n meer geintegrede gemeenskap verander. Hy sê volgens die jongste statistiek (2024) is 40% van Jamestown se inwoners nou wit.
“Jamestown is ‘n voorbeeld van ‘n ‘nuwe’ Suid-Afrikaanse dorp en hoe dit moet lyk en waar mense saam werk, saam oplossings vind vir hul probleme en saamstaan. Baie ontwikkelings gebeur rondom Jamestown en wanneer mense intrek, vra ons die nuwe inwoners om by die gemeenskap betrokke te raak. Jy trek nie net in Jamestown in en bou vir jou hoë mure nie. Jamestown was altyd oop, jy weet wie se kind is wie s’n en ons wil hê dit moet vir die dorp behoue bly,” veruidelik Okkers.
Ondersteun inisiatiewe
Benewens die ontwikkelings wat die “social fabric” van die dorpie verander, is daar ook sosiale uitdagings wat die paneellede probeer help aanpak.
“Die gemeenskap word geminag wanneer dit by besluitneming kom. Indien jy 10 jaar gelede in Jamestown gery het en jy ry nou weer die eerste keer daar, sal jy al die sekuriteitskomplekse en baie ontwikkeling sien. Ons is nie gekant teen ontwikkeling nie – dit is tot ‘n mate nodig – tog word dit soms ten koste van ons gemeenskap gedoen.
“Dit is goed om in ‘n gemeenskap te trek, maar jy het ‘n verantwoordelikheid wanneer jy in ‘n gemeenskap intrek. Jy moet jou navorsing doen, uitvind wie daar woon en wat die kultuur en die erfenis van die gemeenskap is, want jy kom nie net in en dwing sekere goed op die gemeenskap af nie. Dit is veral belangrik in ‘n gemeenskap soos Jamestown, waar erfenis en kultuur vir ons baie belangrik is,” verduidelik Levendal.
In ‘n poging om die dorp se erfenis te behou, nooi die Jamestowners die hele gemeenskap – nuut en gevestig – om by dorpsinisiatiewe soos die komende Aarbeifees aan te sluit en saam te werk om vir die dorpie se uitdagings oplossings te vind.
LEES OOK: Jamestown-entrepreneurs byeen om straatmark, Aarbei-fees te bespreek




You must be logged in to post a comment.