Die inwoners van Cloetesville het binnekort ‘n belangrike besluit om te maak, nog voor die nasionale munisipale verkiesing sal plaasvind.
Wyk 16 se raadslid, Elsabe Vermeulen, het verlede week aangekondig sy verlaat die Demokratiese Alliansie (DA) vir die Patriotic Alliance (PA).
Terwyl daar op pres. Cyril Ramaphosa gewag word om amptelik die datum van vanjaar se nasionale munisipale verkiesing aan te kondig, is daar vele verrassings wat reeds op munisipale vlak uitspeel, en vir vele plaaslikes was Vermeulen se besluit so ‘n verrassing.
Volgens Vermeulen is die besluit nie gemaak vir persoonlike gewin nie, maar liewer omdat die gemeenskap “meer as beloftes” verdien. Die Cloetesviller is vir byna ‘n dekade lank die plaaslike wyksraadslid.
Vermeulen sê vir te lank moes inwoners van haar wyk in vrees leef terwyl hulle klagtes geïgnoreer is. “Ek het nie weggeskram nie – ek het geluister, opgestaan en aangehou veg vir elke inwo- ner, selfs toe daar min onder- steuning was.
“Ek is met trots en nederigheid deur die PA aanvaar om weer my gemeenskap te dien – sonder vrees, met respek en met ‘n onwrikbare verbintenis tot Cloetesville se mense. My lojaliteit is by julle,” sê Vermeulen.
Haar skuif volg slegs weke nadat Charmaine Laubscher, ‘n DA-lid en voormalige onderburgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit, op Donderdag 12 Februarie skielik aangekondig het sy verlaat die blou party vir die PA.
John Andrews, tans die enigste PA-lid in die Stellenbosch- munisipale raad, het Vermeulen se skuif verwelkom.
Andrews beskryf Vermeulen as iemand wat nooit haar rug op haar gemeenskap draai nie en ‘n leier wat deur die strate van haar wyk loop.
“Ja, baie inwoners onthou haar tyd in die DA. Hulle onthou haar werk. Hulle onthou haar toewyding. Hulle onthou dat sy daar was. Leierskap erken dalk nie altyd toewyding nie – maar gemeenskappe doen dit. Die mense van Cloetesville weet wie vir hulle geveg het.
“In die Patriotiese Alliansie gaan harde werk nie ongesiens verby nie – ons verhef dit. Ons eer dit. Ons beskerm dit. Ons glo leierskap gaan nie oor posisies nie – dit gaan oor diens. Diens is presies wat raadslid Vermeulen nog altyd gegee het,” sê Andrews.
Op haar beurt was Stellenbosch se nuutste PA-lid dae ná haar aankondiging besig met partysake. Die afgelope Saterdag (21 Februarie) het Vermeulen en mede-partylede werwingswerk in White City gedoen.
“Leierskap verg moed. Ek is bereid om verantwoordelikheid te dra vir my besluit, want my fokus bly onveranderd – om sonder vrees en met respek my gemeenskap te dien,” sê sy.
Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder vir die Stellenbosch-munisipaliteit, het by navraag gesê sodra ‘n raadslid amptelik ‘n bedanking indien, sal die munisipaliteit die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) in kennis stel. Gevolglik sal ‘n tussenverkiesing in die betrokke wyk moet plaasvind.





