Die Universiteit Stellenbosch (US) en die Maties-rugbyklub het ‘n strategiese borgskapvennootskap met die bekende finansiële diensverskaffer Salt EB aangegaan.
Die vennootskap, wat op Woensdag 12 Augustus amptelik by die Danie Craven-stadion aangekondig is, behels onder meer assosiatiewe naamgewingsregte met betrekking tot die stadion en ‘n kampusrugbyborgskap.
Dit weerspieël ‘n internasionaal erkende model waardeur universiteite en sportorganisasies private beleggings lok sonder dat hul erfenis in gedrang kom.
Die Danie Craven-stadion behou sy geskiedkundige identiteit, terwyl die vennootskap met Salt EB help om in studentegeleenthede, sportuitnemendheid en gemeenskapsimpak te belê.
LEES OOK: New man at rugby coaching helm of Stellenbosch University

Erfenis beklemtoon
Eerder as om die identiteit van die fasiliteit te vervang, berus die vennootskap op ‘n assosiatiewe naammodel wat Salt EB se bydrae as ‘n strategiese vennoot erken, terwyl dit verseker dat die stadion se naam, geskiedenis en nalatenskap aan die kern van sy identiteit bly.
Die stadion sal danksy hierdie vennootskap voortaan as die “Danie Craven-stadion met die steun van Salt EB” bekendstaan.
Erfeniselemente wat met die stadion geassosieer word, sal deur voortgesette storievertelling, herdenkingsprojekte en erfenisinstallasies beklemtoon word.
“Die aankondiging is ‘n belangrike mylpaal in die versterking van die universiteit se verbintenis tot sportuitnemendheid, strategiese vennootskappe en die voortgesette ontwikkeling van sportgeriewe van wêreldgehalte,” het prof. Deresh Ramjugernath, die rektor en visekanselier van die US, gesê.
“Ons is baie dankbaar vir Salt EB en sien uit na ‘n jare lange vennootskap om die Maties en die breër sportgemeenskap te dien.”
Kampusrugby ondersteun
Eddie Strydom, die voorsitter van die Salt EB-raad, het gesê hulle sien daarna uit om saam met die US te werk. “Die US is nie net ‘n toonaangewende universiteit wat ‘n diverse sportervaring bied nie, maar dit is ook vir ons ‘n eer om met die Maties-rugbyklub – wat ‘n lang rugbygeskiedenis het wat so ver as 1875 terugstrek en wêreldwyd bekend is – geassosieer te word.”
Drikus Hancke, die hoof van rugby by Maties Sport, het bygevoeg: “Dit is inderdaad ‘n nuwe era vir Maties Rugby. Die vennootskap verseker nie net die langtermynvolhoubaarheid vir die klub nie, maar sal ook studente-atlete direk bevoordeel deur finansiering vir rugbyprogramme, insluitende talentidentifisering en die ondersteuning van hoëprestasie-spanne.
“Salt EB is ook die kampusrugby-vennoot. Dit is ‘n belegging in die ontspanningsrugby-studentegemeenskap. Kampusrugby bied aan koshuise en pendelstudente die geleentheid om mee te ding en rugby te geniet. Hier werk Salt EB saam met Maties Rugby om te verseker dat dit só aangebied word dat dit tot ‘n transformerende studente-ervaring by die US bydra.
“Kampusrugby voed die hoëprestasie-spanne en die volhoubaarheid van hierdie roete sal verbeter word deur saam met vennote te werk wat ontwikkeling en geleenthede waardeer.”
LEES OOK: Maties kry duur rugbyles tydens halfeindstryd van FNB Varsitybeker





You must be logged in to post a comment.