bek-en-klouseer (BKS)
Gevalle van bek-en-klouseer (BKS) is Stellenbosch is vandeesweek bevestig.

Bek-en-klouseer op Stellenbosse kommersiële plaas bevestig


Die Wes-Kaapse departement van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme het Donderdag 18 Junie ‘n uitbreking van bek-en-klouseer (BKS) in Stellenbosch bevestig.

Die uitbreking het volgens die departement onder ‘n trop vee van ‘n plaaslike veeboer in die omgewing van Khayamandi voorgekom.

“Die uitbreking is op die kommersiële plaas wat 30 beeste noord van die Papegaaiberg-natuurreservaat aanhou,” het Mary James, ‘n woordvoerder van die departement, verduidelik.

Sy het bygevoeg dat alle groepe nuwe diere wat ingebring is en alle ander potensiële bewegings na die plaas ondersoek word om die moontlike bron te bepaal.

LEES OOK: Swartland-munisipaliteit bekommerd oor BKS-geval

Minister Meyer Ivan visiting Braams Voerkrale
Die Wes-Kaapse Minister van Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, dr. Ivan Meyer (links), het onlangs ‘n voerkraal besoek as deel van die reaksie op Bek-en-Klouseer (BKS).

Versoekskrif

Boere van Khayamandi gebruik reeds jare lank die plaaslike natuurreservaat as weiding vir bokke en beeste. Hierdie gebruik het talle inwoners van die nabye Onder-Papegaaiberg-buurt ontstel, aangesien vee gereeld deur die natuurreservaat tot in dié woonbuurt beweeg.

‘n Versoekskrif is reeds in 2023 aan die Stellenbosch-munisipaliteit, die eienaar van die grond, gerig om onder meer boere uit die natuurreservaat te hou. Die munisipaliteit werk nou om ‘n bestuurplan vir die reservaat op te finaliseer.

Intussen het die departement gesê ‘n private veearts is van die uitbreking verwittig. “Die plaas is in kwarantyn geplaas en enige vee wat nog nie teen bek-en-klouseer ingeënt is nie, is intussen ingeënt,” het James gesê.

By navraag het Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder vir die Stellenbosch-munisipaliteit, gesê die geval van BKS word deur die staatsveeaarts hanteer.

“[Die munisipaliteit] verneem die betrokke plaas is as voorsorgmaatreël onder kwarantyn geplaas en het die uitbreek nie in die reservaat begin nie,” het Grobbelaar gesê.

Bly waaksaam

Geen diere is weens die uitbreking van kant gemaak nie.

“Ondersoeke en monitering in die omliggende gebiede is aan die gang. Dit is ‘n meer stedelike tot kommersiële gebied met yl verspreide vee in ons rekords,” het James verduidelik.

Die Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, dr. Ivan Meyer, het onlangs die noodsaaklikheid van ‘n gesamentlike benadering vir die bekamping van bek-en-klouseer beklemtoon.

Die departement moedig vee-eienaars aan om waaksaam te bly, streng biosekuriteitsmaatreëls te handhaaf, waar toepaslik aan inentingsprogramme deel te neem en enige verdagte simptome summier aan te meld.

Die munisipaliteit bly in noue kontak met die relevante owerhede en volgens Grobbelaar sal die munisipaliteit enige nodige bystand aan die departement bied indien nodig.

LEES OOK: Wes-Kaap maand BKS-vry: geen nuwe voorvalle aangemeld

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article