Jan Hendrik Viljoen, oftewel Portchie, is Vrydagoggend (12 Junie) dood. Foto: Francois Lombard

Stellenbosch se geliefde en unieke ‘Portchie’ sterf

Jan Hendrik Viljoen, oftewel Portchie, is Vrydagoggend (12 Junie) dood. Foto: Francois Lombard

Die Stellenbosse kunstenaar, Jan Hendrik Viljoen, alombekend as “Portchie” is Vrydagoggend (12 Junie) in die ouderdom van 62 oorlede.

Die nuus van sy afsterwe is op die gewilde kunstenaar se Facebookblad gedeel. “Dis met ‘n diepe hartseer dat ons die afsterwe van ons geliefde broer, mentor en vriend deel,” lui die inskywing.

“Hy het ontelbare lewens aangeraak deur sy geloof, sy kuns, sy vriendelikheid, sy wysheid, en sy onwrikbare passie vir die lewe. Sy nalatenskap sal voortleef in die harte van almal wat hom geken het en in die skoonheid wat hy na die wêreld gebring het.”

Die inskrywing deel ook ‘n aanhaling van Portchie: “Fietsry is soos die lewe – hoe harder jy trap hoe meer kry jy daar uit.”

LEES OOK: Portchie se werke raak digitaal

Portchie Jan Hendrik Viljoen
Die plaaslike kunstenaar Jan Hendrik Viljoen, beter bekend as Portchie, was veral bekend vir sy kreatiwiteit en unieke gees.

Geen verdere besonderhede oor die oorsaak van sy dood is bekend gemaak nie. “Ons sal hom verskriklik mis, maar sy gees, inspirasie en vreugde sal ons ewig bybly. Rus in vrede ons liewe broer en vriend, Portchie.”

Die Stellenbosch-munisipaliteit het in in ‘n verklaring namens die burgemeester, raad en administrasie sy medelye aan Portchie se familie, vriende, kollegas en almal wie se lewens hy deur sy kuns en vriendskap betuig.

“Portchie was ‘n groter-as-die-lewe-figuur wie se kleurvolle, lewendige en vreugdevolle kuns sinoniem geword het met die Stellenbosch-kunswêreld en hom erkenning regoor Suid-Afrika en regoor die wêreld besorg het,” lui die verklaring.

“Deur sy kreatiwiteit, passie en unieke gees het hy tallose lewens aangeraak en ‘n onuitwisbare merk op ons gemeenskappe gelaat.”

Die Stellenbosse burgemeester, Jeremy Fasser, het bygevoeg. “Benewens sy artistieke talent, was Portchie bekend vir die warmte, energie en positiwiteit wat hy aan almal rondom hom gebring het. Sy bydrae tot die kulturele struktuur van Stellenbosch en die impak wat hy op soveel mense gehad het, sal vir jare onthou word.”

LEES MEER: ‘Portchie’ beplan grootste uitstalling nog in Eikestad

Eikestadnuus het oor die jare heen verskeie kere oor Portchie en sy werk verslag gedoen. Met sy 60ste verjaardag in 2023, het hy die mylpaal gevier met die grootste kunsuitstalling in die Stellenbosch-stadsaal nog.

Dié uitstalling was getitled “Portchie: Van Tweeling tot Trafalgar Square” en het talle na die stadsaal gelok.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article