Wyle Charl "Smitty" Smit
Die geliefde verkeersman, Charl “Smitty” Smit van Stellenbosch, is skieklik oorlede.

‘n Man van integriteit, dissipline en ‘n groot Stormers-ondersteuner.

Vir 34 jaar het Charl Smit (54) in verkeerdienste gewerk en volgens sy kollegas, seniors, vriende en familie was dit sy roeping in die lewe.

Smit, oftewel “Smitty” soos hy bekendgestaan het, is Maandag 13 April skielik oorlede.

Dié Stellenbosser het vir dekades lank as verkeersbeampte van die Stellenbosch-munisipaliteit gewerk waar hy so geliefd was dat hy verlede week selfs ‘n vaarwel van die plaaslike Sixty-60-afleweraars ontvang het.

Charl Smit sixty60
Plaaslike Sixty-60-afleweraars saam met wyle Charl Smit se gesin. Die afleweraars het hulde aan die verkeersman gebring.

Familie- en gemeenskapsmens

Dr. JJ Johannes, sy vriend en kollega verbonde aan die Gene Louw-verkeerskollege, het Smitty Dinsdag 21 April op ‘n gedenkdiens as ‘n gemeenskapsmens en gentleman beskryf. “Sommige van ons dra die uniform en sommige van ons word dit wat die uniform verteenwoordig,” het Johannes gesê.

Die twee het destyds saam gewerk en Johannes meen dit was Smit se mentorskap wat hom aangespoor het om uiteindelik sy twee doktersgrade te voltooi.

Smit is oorspronklik van Worcester. Volgens sy vrou, Lezel, het die twee in 1993 ontmoet en was hul sedertdien nooit weer sonder mekaar nie.

Smit se kinders, Charl jr., Destiaan en Vernique, sê hoewel hulle nie ‘n streng pa gehad het nie, was daar altyd dissipline in die huis. Die drie sal hom altyd as ‘n stoere Stromers-ondersteuner onthou vanweë sy liefde vir rugby. Die Smit-gesin sê as gelowige het Smit verseker dat hy Sondae in die kerk is.

Smit se ouer suster, Ronél Pretorius, sê hoewel sy byna ‘n dekade ouer as haar broer is, het hulle ‘n hegde band gehad. “Ons was almal saam vir Paasfees en ek glo dit was die Here se wil om ons almal bymekaar te hê vir die laaste keer,” sê sy.

Smit het vir die afgelope twee jaar gesondheidsuitdagings gehad, maar was ná herstel weer op die pad – voor sy skielike dood verlede week.

Toegewyde verkeersman

Kollegas van Smit het op die gedenkdiens sy toegewydheid en passie vir sy werk uitgelig. “Toe hierdie seun gebore is, kon ‘n mens nie dink dat een persoon se impak wat hy gemaak het so groot sou wees nie. Dit spreek boekdele,” het die Stellenbosch-verkeershoof, Gavin Solomons, gesê.

“Hy het sy rol goed gespeel en was nog aan diens tot die Sondagaand om 22:00 en Maandag het God hom huistoe geroep.”

Volgens Solomons was Smit die laaste twee weke in die beheerkamer, maar dit was nie waar die verkeerman wou wees nie.

“Hy wou op die pad wees. Hy het aan ons geskryf en gebel en uiteindelik was die besluit om hom weer buite op die pad te hê. Dit was sy wens en wat hy wou doen tot op sy laaste toe.”

Solomons het die Smit-gesin bedank vir hul opoffering om hul man en pa met die gemeenskap van Stellenbosch “te deel”.

Wyle Charl "Smitty" Smit
Kerses is tydens ‘n gedenkdiens vir wyle Charl “Smitty” Smit aangesteek.

Stephanie Heneke, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskaps- ontwikkelings- en beskermingsdienste, meen daar is min verkeersbeamptes soos Smit.

Heneke het vertel hoe Smit destyds vir haar verkeersboetes “met ‘n breë glimlag” uitgeskryf het en beklemtoon sy professionaliteit.

Volgens Stellenbosch se burgemeester, Jeremy Fasser, het hy Smit ontmoet toe hy as bestuurskooloperateur die plaaslike verkeersdepartement besoek het.

Fasser sê benewens die munisipaliteit wat ‘n passievolle werker verloor het, het hy ook ‘n vriend en mentor verloor.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article