Slimfone, kragtige rekenaars en kunsmatige intellegensie verbeter daagliks, maar sal nooit menslike aanraking, empatie en emosionele ondersteuning van verpleging kan vervang nie.
Só vertel sr. Kay-Lee Gordon wat ‘n verpleegster vir die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand in die Stellenbosch-subdistrik is.
Gordon (33), oorspronklik van Cloetesville, is agt jaar lank ‘n verpleegster en benewens haar algemene verplegingservaring het sy ook ondervinding in geestesgesondheid en die kraamsaal.
“Ek het altyd ‘n passie gehad om mense te help en om ‘n verskil te maak in iemand se lewe – veral tydens moeilike tye. Ek wou ‘n beroep hê waar ek mense met empatie, kennis en sorg kan ondersteun. Ek het van ‘n jong ouderdom verpleegsters bewonder en altyd gesê eendag wil ek ook mense help en ‘n verskil maak,” vertel sy.
Klein gebare
Verpleegsters neem nie net instruksies van dokters nie, maar speel ook ‘n belangrike rol in besluitneming wanneer dit by hul pasiënte kom, sê Gordon.
Deel van hul werk is pasiëntwaarnemings, ondersteuning en om insae te lewer, soms namens die pasiënt.
Deur haar loopbaan het Gordon gesien hoe sterk mense in die moeilikste omstandighede kan wees. Sy het ook geleer hoe belangrik die kleinste gebare van omgee en vriendelikheid vir pasënte en hul families kan wees.
“Verpleging het my nader aan God gebring. Sonder die Here sal ek glad nie in die loopbaan kon bly nie. My hulp kom van die Here. Dit het my geleer om meer geduldig, empaties en dankbaar te wees, en om nie mense te oordeel nie en die mens agter die diagnose raak te sien.”
Gordon sê haar loopban gee betekenis en doel aan haar lewe.
Vir diegene wat daaraan dink om haar voetspore te volg, het sy dié advies: “Jy moet ‘n passie hê vir mense en bereid wees om hard te werk en pofferings te maak, want verpleging vra baie, emosioneel en fisiek. Ons is daar op spesiale dae soos Kersfees, Paasnaweek, Nuwejaarsdag – wanneer almal saam met hul gesinne is, is ons daar om na ander om te sien.”
Steun in moeilike tye
Gordon is van die plaaslike gemeen- skapsgeöriënteerde primêre sorgspan en hoop haar pasiënte onthou haar as iemand wat ‘n verskil kon maak in hul lewe – iemand op wie hulle kon steun in moeilike tye.
“Die dankbaarheid van pasiënte en hulle families, en die wete dat ek iemand se lewe positief kon beïnvloed, is wat my deur die moeilikste dae van my beroep dra.”
Om seker te maak sy kan die beste vir haar pasiënte gee, maak Gordon seker om op haar afdae genoeg te rus en bring tyd saam met haar familie deur en kyk graag ‘n fliek of twee.
- Verpleegstersmaand is in Mei herdenk.



