Jamestowners het die afgelope Vrydag (1 Mei) na die Stellenbosch-stadsaal opgeruk om hul ongelukkigheid oor gentrifikasie, noodbehuising en verskeie ander kommerwekkende kwessies in die dorpie aan die Stellenbosch-munisipaliteit bekend te maak.
Presies 124 jaar nadat die eerste huurkontrakte vir Jamestown onderteken is, het inwoners gesê hulle is moeg om te sien hoe die erfenis, kultuur en geskiedenis weens buurtopknapping en ontwikkeling verlore gaan.
Jamestowners en ondersteuners uit ander buurte het op Die Braak byeengekom en met plakkate deur die dorp geloop. Volgens gemeenskapslede is veral behuising en die beplande supermark in die buurt kwelpunte.
Verandering bring nuwe kwessies
“Die hele dinamika van Jamestown is aan die verander,” verduidelik die boorling Joylene Smith. “Die half-landelike atmosfeer wat ons geniet, is besig om te verander en ek is oortuig oor vyf jaar gaan ons nie die Jamestown van ouds herken nie. Dit wat ons voorouers beskerm het, is nou vir ons om vir ons kinders te beskerm.”
Inwoners meen ontwikkeling moet nie ten koste van die dorpie se geskiedenis van landbou, samesyn en ‘n gemeenskapsdinamika, waar almal mekaar se naam ken, geskied nie.
Chrisben February, die voorsitter van die Jamestown-erfenisorganisasie, sê hul dorpie is onder toenemende druk na aanleiding van hoëdigtheid-veiligheidskomplekse en ander ontwikkelings.

“Hierdie ontwikkelings het ‘n ernstige finansiële uitwerking met aansienlike hoër munisipale tariewe wat veral die middel- en lae-inkomste erfhouers raak. Vir landbou-erfhouers bedreig dit ons voortbestaan aangesien boerdery eenvoudig onbekostigbaar raak,” verduidelik hy.
‘n Groot deel van Jamestown se erfenis is die gewilde aarbeifees. In aanloop tot vanjaar se fees hou die gemeenskap maandeliks ‘n straatmark, maar hierdie gemeenskapsprojek word deur munisipale tariewe bedreig. Die munisipale voorskrifte om die straatmark aan te bied, beteken Jamestowners moet sowat R15 000 per geleentheid opdok – geld wat die gemeenskap nie kan bekostig nie. Die mark-kommitee werk nou om borge en vennote vir beide die straatmark en fees te vind.
Gemeenskap bekommerd oor noodbehuising
Die munisipaliteit se onlangse bevestiging dat Mountain View in Jamestown amptelike ‘n gebied vir noodbehuising is, is nog ‘n kwelpunt.
‘n Jamestowner, wat slegs as ‘n gemeenskapslid geïdentifiseer wil word, sê die munisipaliteit “dump” eenvoudig mense hier terwyl talle plaaslikes weens ‘n gebrek aan staatsbehuising in agterplase moet woon.
Die munisipaliteit het op die Maart-raadsvergadering onder meer Mountain View vir noodbehuising uitgewys. Tans is daar sowat 90 uitsettingsbevele vir die munisipale gebied en die munisipaliteit is genoodsaak om noodbehuising aan uitgesettenes te verskaf.
Volgens die gemeenskapslid beteken die toename van mense dat ernstige misdaad in die buurt sal toeneem.
LEES OOK: G’n plek vir Stellenbosch-munisipaliteit se noodhuise
Inwoners meen ook die munisipaliteit moet meer doen om hul insae oor planne en beplande ontwikkelings in die dorpie te in.
Jamestowners het Vrydag hul versoekskrif met hul eise aan die hoofinspekteur van wetstoepassing, R.E. Banies, oorhandig. Die burgemeester, Jeremy Fasser, was nie by die geleentheid nie, wat die inwoners nog meer ontstoke gelaat het. Die munisipaliteit het egter bevestig Fasser het nooit belowe om die versoekskrif in ontvangs te neem nie.
Prof. Ronnie Donaldson, wat reeds jare lank navorsing oor gentrifikasie in onder andere Jamestown en Pniël doen, meen die gebrek aan die burgemeester of ‘n burgemeesterskomiteelid is bewys van die munisipaliteit se gesindheid teenoor inwoners.

“Mense wat in Stellenbosch se klein dorpies woon, kan tot die slotsom kom van wat die munisipaliteit se siening oor hulle is… Ek is seker indien hierdie optog deur ‘n groep ontwikkelaars was, sou die burgemeesterskomitee gewis hier gewees het,” sê Donaldson.
“Dit kom op minagting neer,” het ‘n inwoner gesê.
Onder diegene wat saam betoog het, was inwoners van Kreefgat in Idasvallei, waar die munisipaliteit ook onlangs noodbehuising, sonder kennis aan die gemeenskap, wou oprig.
“Die probleme wat ons hier in Jamestown het, is nie slegs ons probleme nie,” sê Dale Simons van Jamestown. Hy meen dieselfde uitdagings spoel na ander buurte oor.
LEES OOK: Inwoners verhoed Stellenbosch-munisipaliteit om nuwe strukture op te rig
Volgens Franklin Adams is dit juis hoekom alle inwoners “belanghebbende en geaffekteerde partye” moet wees. “Ons moet voortbou op hierdie soort protestaksie, want dit is natuurlik die enigste taal wat ons plaaslike politici verstaan. Dit is so eenvoudig – openbare deelname is deel van wetgewing; luister dus wat die mense sê; luister wat sê jou belastingbetalers en kyk na die vergelyking, maar [die munisipaliteit] is te arrogant om dit te doen.”
Die munisipaliteit het by navraag gesê hy is bewus van Vrydag se betoging. “Die optog is vooraf goedgekeur en het vreedsaam verloop. ‘n Versoekskrif is ontvang; die inhoud daarvan word tans deeglik bestudeer en die munisipaliteit sal op elke punt volledig en skriftelik reageer,” het Stuart Grobbelaar, ‘n munisipale woordvoerder, gesê.
“Die versoekskrif is amptelik ontvang en word volgens die normale prosesse hanteer.”
| Jamestowners se eise aan die Stellenbosch-munisipaliteit |
| • Staak onmiddellik enige verdere hervestigings na Mountain Breeze-woonwapark en Mountain View/plaas 527. • Verskaf volledige regsverklarings en prosedurele verduidelikings vir die hervestigings wat reeds onderneem is, asook bewys dat daar aan al die amptelike studies wat vereistes van die Noodbehuisingsbeleid vir die Mountain View Temporary Relocation Area (TRA) nakom, voldoen is. • Staak die voorgestelde uitbreiding van tydelike verblyf in Mountain View hangende ‘n wettige, deursigtige en gemeenskapsinsluitende proses. • Erken en beskerm Jamestown se kulturele erfenis, onder meer deur formele erfenisaanwysing en gemeenskapsgerigte beplanning. • Onmiddellike onderhandelings met die burgemeesterskomitee om tariefongelykhede wat deur gentrifisering veroorsaak word, aan te pak. • Implementeer ‘n regstellingsplan om die agteruitgang van infrastruktuur, dienste en omgewingsgehalte van Wyk 21 aan te pak. • Verbind die munisipaliteit tot gestruktureerde, deurlopende betrokkenheid met Jamestown-inwoners, insluitend kwartaallikse openbare vergaderings. |






You must be logged in to post a comment.