Dehan van Deventer
Die 16-jarige Stellenbosse tennisspeler Dehan van Deventer, wat al vier ITF- junior enkeltitels behaal het.

Die 16-jarige Stellenbosse tennisspeler Dehan van Deventer het die afgelope twee jaar vinnig tot een van Suid-­Afrika se voorste junior spelers ontwikkel, met sy oog stewig op ‘n professionele loopbaan.

Van Deventer, wat tans by die gerespekteerde Coppini-tennisakademie onder leiding van Federico Coppini afgerig word, het onlangs sy tweede agtereenvolgende Suid-Afrikaanse kampioenskap behaal – eers in die o.16-afdeling in 2025 en vroeg vanjaar in die o.18-afdeling.

Dié jong speler se tennisstorie het op vierjarige ouderdom begin toe hy die eerste keer met ‘n raket begin speel het.

LEES OOK: Federico Coppini Foundation’s mission to empower underprivileged children

Dehan van Deventer
Dehan van Deventer in aksie tydens ‘n toernooi. Die 16-jarige Stellenbosse speler het met sy aggressiewe speelstyl en harde werk reeds vier ITF Junior enkeltitels en twee dubbeltitels onder die knie gekry, wat hom gevestig het as een van Suid-Afrika se voorste junior tennistalente.

Vroeë begin

Dit was egter ‘n spesiale oomblik op 17-jarige ouderdom wat sy koers bepaal het. “Ek was sewe toe ek die eerste keer in lewende lywe ‘n professionele tennis­wedstryd gekyk en toe besef het dit is wat ek wil doen,” vertel Van Deventer.

Dié wedstryd, waarin die SA-speler Lloyd Harris gespeel het, het ‘n blywende indruk op hom gelaat.

Sy eerste afrigter, Elizma Slabbert by Heat Tennis, het volgens hom ‘n grondliggende rol gespeel. “Elizma het ‘n groot invloed op my liefde vir die sport gehad,” onthou hy dankbaar.

Van Deventer se meteoriese styging in die junior tennis­wêreld spreek boekdele.

In 2023, op net 13-jarige ouderdom, het hy sy eerste internasionale ­junior­ eindronde bereik. Teen 2025 het hy sy eerste internasionale junior titel gewen en sedertdien vier ITF- junior enkeltitels en twee dubbeltitels by sy indrukwekkende rekord gevoeg.

Dié Stellenbosse speler het ook die trots van sy land op die internasionale verhoog gedra. Hy is deur Sascoc gekies as een van 198 atlete vir die junior Afrikaspele, waar hy ‘n silwermedalje in die mans-enkelspel behaal het en ook lid van SA se span was wat algehele goud verower het.

In 2025 het hy SA in die Junior Davis-beker verteenwoordig en ook verlede jaar was hy lid van die nasionale o.18-span by die Afrika-­kampioenskappe.

LEES OOK: International Tennis Federation tournament in Stellenbosch

Lesse uit nederlaag

Een van sy mees gedenkwaardige wedstryde was ironies genoeg ‘n nederlaag in 2024 teen ‘n professionele speler. “Dié wedstryd het my laat besef ek is mededingend, maar aspekte van my spel moes verbeter word,” onthou hy.

Hierdie nederlaag het hom net harder laat werk – veral die geestelike aspek daarvan – onder leiding van sy afrigter, Coppini, en ‘n professionele sielkundige.

Van Deventer erken sy sukses sou nie moontlik gewees het sonder die sterk ondersteunings­netwerk rondom hom nie. “Ek is baie gelukkig omdat ek so goeie ondersteuning van my ouers en my sussie asook my afrigterspan by die Coppini-­tennisakademie het.”

Sy fisieke voorbereiding word ondersteun deur ‘n kondisione­ringsafrigter en ‘n biokinetikus, terwyl sy geestelike spel onder die skerp oog van professionele mentors ontwikkel word.

Van Deventer het van kindsbeen af ‘n aggressiewe speel­styl geopenbaar.

Tans werk hy daaraan om hierdie natuurlike aggressie meer beheerd te maak terwyl hy steeds die druk op sy teenstanders handhaaf.

Toekomstige ambisies

Sy korttermyndoelwit is duidelik: “My mikpunt is om professioneel tennis te speel.”

Hy beplan om ‘n kombinasie van internasionale junior toernooie en beginvlak- professionele toernooie te speel, met die hoop om uiteindelik vir junior Grand Slams te kwalifiseer.

Sy raad aan ander jong aspirante tennisspelers is eenvoudig, dog kragtig: “Die belang­rikste is om nooit op jou droom op te gee.”

Met sy indrukwekkende rekord, sterk ondersteuningsnetwerk en onwrikbare bepaald­heid lyk dit asof Dehan van Deventer goed op koers is om sy droom om professionele tennis te speel, waar te maak.

. Van Deventer rig tans af by die Coppini-tennisakademie onder leiding van Federico Coppini en het reeds ‘n ITF junior ranglys van 253 bereik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article