Ten spyte van uitdagings is die gemeenskap vasbeslote om hul maandelikse straatmark te hou in die aanloop tot Jamestown se gewilde Aarbei-fees.
Gemeenskapslede het op Donderdag 16 April byeengekom om die mark te bespreek wat verlede April begin is om die gemeenskap nader aan mekaar te bring, maar ook om die stalletjiehouers te help om ‘n addisionele inkomste te hê.
Benewens gebak, bredies en vars vrugte en groente verkoop stalletjiehouers ook kunsvlyt, tweedehandse klere, heuning en plantjies al langs Webervalleiweg.
LEES OOK: Jamestown se straatmark maak gereed vir Arbei-fees

‘Lywige proses’
Die voorsitter van die reëlingskomitee, Dale Simons, het verduidelik dit sal maandeliks minstens
R15 000 kos om dit die laaste naweek van die maand aan te bied. Die uitgawe spruit uit die Stellenbosch-munisipaliteit se beleid oor byeenkomste.
“Almal wat iets aanbied moet deur ‘n formele proses gaan en dit is ‘n lywige proses. Onder meer moet jy mediese dekking hê, sekuriteit, ‘n aanspreeklikheidspolis en jy moet ‘n paramedikus met ‘n ambulaans op die terrein hê,” het hy verduidelik.
Van die straatmark se grootste uitgawes sal wees om een veiligheidswag vir elke 100 mense aan te stel, toilette te huur en ook die kostes van die paramedici.
Tog probeer die komitee om kostes so laag as moontlik te hou om te voorkom dat die sowat 40 stalletjiehouers nie meer as R100 vir hul staanplek betaal nie.
Vir vandeesmaand se mark, op Saterdag 25 April, sal die straatmark self die kostes dra, maar dié oplossing is nie volhoubaar nie. “Dit is ons probleem as gemeenskap, nie die komitee s’n nie,” meen Simons. Hy het die gemeenskap uitgenooi om met voorstelle te kom.
Op soek na borge
Hy maan ook die uitgawe vir die Aarbei-fees sal dus nog hoër wees. Die fees het tans nie ‘n borg nie, maar Simons sê die komitee is hard aan die werk om vennote en borge vir die gewilde geleentheid te werf.
Gemeenskapslede het die munisipaliteit gekritiseer oor die vele vereistes en die gepaardgaande koste van geleenthede soos die straatmark.
Die fees is vir die eerste keer in 2015 aangebied en die gemeenskap hoop om die jaarlikse geleentheid op 6 en 7 November vanjaar te laat herleef.
Vir die gemeenskap is die fees ‘n jare lange instelling. Gesinne soos die van Ivy Denyssen is reeds jare lank betrokke. Ma Ivy, soos sy bekend is, het destyds aarbeikonfyt vir die geleentheid gemaak.
Daar is reeds diegene wat hul hand opgesteek het om die fees te help. Studente van die Stellenbosch Academy of Design & Photography beoog om as deel van hul kursus saam met die Jamestown-entrepreneurs te werk.
Met hul vaardighede sal die studente getaak word om stalletjies te help met alles van logo’s en plakkate skep tot hulp met verpakking en sosiale media, indien nodig, het Neil le Roux en kollega Rabia Abba Omar op die vergadering verduidelik.






You must be logged in to post a comment.