VVA bied aan die Johan Combrink-gedenklesing
Dr. Ilse Eigelaar-Meets aan die woord by vanjaar se Johan Cobrink-gedenklesing. Foto: Yaël Malgas

Hoe druk iemand hom- of haar uit wanneer die woorde wat hulle nodig het ontbreek?

Dr. Ilse Eigelaar-Meets, sosioloog verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US), was vanjaar die gasspreker van die 22ste Johan Combrink-gedenklesing. Die gedenklesing is deur die Vriende van Afrikaans (VVA) aangebied, met die tema “Taal  – die instrument wat menslike ontwikkeling kan maak of breek”.

In Eigelaar-Meets se navorsing het sy gekyk na taal onder jongmense. Sy beklemtoon dat taal gemeenskappe skep en tot ‘n gedeelde erfenis en kultuur lei, en word geskep deur diegene wat dit praat.

“Taal is ook ‘n meganisme van ongelykheid. Mag, status, ekonomiese toegang word versterk en regverdig deur taal. Ons hoor dit wanneer daar gepraat word oor die oorloë wat aan die gang is – hoe dit regverdig en gerasionaliseer word. Dink aan watter tale word geprioritiseer, watter tale het status en watter dialek gemarginaliseer word. Dit is ongelykhede, ingewerk in taal,” sê Eigelaar-Meets.

Dr. Ilse Eigelaar-Meets by die Johan Cobrink-gedenklesing. 2026
Foto: Yaël Malgas
Dr. Ilse Eigelaar-Meets luister na ‘n lid van die gehoor na afloop van haar voorlegging by vanjaar se se Johan Cobrink-gedenklesing. Foto: Yaël Malgas

Die sosiale meganisme van taal word gebruik om te verdeel, maar ook bymekaar te bring.

In haar navorsing het sy gevind die woorde wat gebruik word, kan ‘n kind help maak of breek.

Deur haar navorsing in die Wes- en Noord-Kaap het Eigelaar-Meets ‘n hoërskool in Oudtshoorn besoek waar sy die krag wat woorde kan hê, besef het.

By hierdie skool vertel die skoolhoof dat leerders in gr.8 nie kan lees en skryf nie en hoe gr.8-onderwysers kinders die alfabet leer, in plaas van vakonderrig.

“Hy sê maar dit is egter nie die skool se grootste probleem nie. Die grootste probleem is die ouers, want as kinders sê hulle wil ‘n onderwyser of ‘n dokter word, sê hul ouers vir hulle ‘Is jy dan simpel? Hier word ons net plaaswerkers’.”

Die woorde wat dié jongmense hoor is ‘n manier om jongmense terug te hou van hul potensiaal.

Onderwysers in die gehoor het van die gebrek aan taalvermoë getuig, met een plaaslike gr.11-onderwyser wat vertel van leerders in sy klas wat hy agterkom nie met begrip kan lees nie.

Eigelaar-Meets vertel van kinders op plattelandse dorpe wat skool ná gr.3 of gr.4 verlaat, omdat skool frustrend is omdat hulle nie kan lees of skryf nie.

“Ons beweeg terug in tyd en sal ongeletterde volwassens in ‘n tyd van skole sonder skoolgeld hê.”

Ten spyte van die gebrek aan taal en geletterdheid, vertel Eigelaar-Meets van die verskil wat programme soos die VVA se naskoolse programme kan hê.

Combrink-gedenklesing 2026
Dr. Ilse Eigelaar-Meets (US) was die gaspsreker vir die geleentheid. Saam met haar is (van links) Chareldin van der Merwe (VVA), Gerrie Lemmer (ATKV), Shireen Crotz (VVA) en Mercia Eksteen (ATKV). Foto: Yaël Malgas

Hierdie programme gee veral jongmense woorde om mee te werk, bied ‘n geleentheid om die wye wêreld te verken deur lees, en bou selfvertroue deur hul eie skryfwerk en digkuns.

“Jy kan lees van buite jou onmiddellike omstandighede. Baie van hierdie kinders kom nêrens nie, hulle bly in die plekkie waar hulle is,” verduidelik sy.

Sy het gevind in Ashton was die meeste leerders met wie hulle gesels het nooit uit die dorpie nie. Sommige van die leerders van 18-jaar bieg hulle was nog nie eers in Bonnieville of Worcester nie. “Al wat hulle kan oopmaak, is ‘n boek.”

Vir kinders wat wel lees en skryf, maak dit wêrelde oop want soos een seuntjie die navorsers vertel het: “Nou is ek nie meer dom nie.”

Tog het hierdie leerders nie meer potensiaal as wat hulle gehad het voor hulle kon lees nie. Wat hulle nou wel het, is die woordeskat om hul te kan uitdruk in ‘n manier wat ander en hulself kan verstaan.

“Dit sal geen verskil maak aan die stand van ongelykheid in ons land indien ons nie die basiese en noodsaaklike lees kan vaslê in ons kinders nie,” sê Eigelaar-Meets.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article