Stellenbossers sal nou minder water moet gebruik en terselfdertyd meer moet opdok vir hul water.
Pres. Cyril Ramaphosa het ‘n amptelike noodtoestand in die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Oos-Kaap verklaar weens die voortslepende droogte in dié drie provinsies.
Minder reën verlede winter beteken die somerseisoen het aangebrek met minder water as gewoonlik in die twee Idasvallei-damme.
Stellenbosch kry ‘n kwart van sy water van dié twee damme, en die res van die Pradadyskloof-waterverwerkingsaanleg. Die water na die afleg kom van die Theewaterskloofdam wat gister (Woensdag 4 Maart) 50,8% vol was.
Op verlede Woensdag (25 Februarie) se raadsvergadering het die Stellenbosch-munisipaliteit vlak 2-waterbeperkings ingestel. Volgens hierdie beperkings sal 20% minder water gebruik moet word.
In ‘n poging om watersekurtiteit vir die gebied te verseker, sal water van die Idas- vallei-damme na die Paradyskloof-wateraanleg herlei word, en boorgate sal gebruik word om water aan te vul. Die beperking beteken verbruikers behoort daagliks slegs 330 liter per persoon te gebruik. Besproeiing is beperk tot spesifieke dae en ure, en kommersiële eiendomme sal 20% minder water moet gebruik as dieselfde tyd verlede jaar. Waterverbruikers in die landbouisektor sal hul gebruik met 10% moet sny.
Voorkomende maatreël
Waterverbruikers is aanvanklik aangemoedig om munisipale verbruik tot 24 megaliter (ML) per dag te beperk. Volgens die munisipaliteit was daar nie ‘n noemenswaardige vermindering in watergebruiksvlakke nie en die behoefte het ontstaan om waterbeperkings “as ‘n voorkomende maatreël” in te stel. Volgens die munisipaliteit se data was die die naaste waterverbruik aan sy teiken Woensdag 11 Februarie, toe 24 730 kiloliter (kl) water op die dag gebruik is, 730 kl bo die teiken, maar watergebruik het op Maandag 16 Februarie tot 32 574 kl gestyg. Dié dag se watergebruik was 12 574 kl bo die munisipale teiken.
Volgens Reginald Pheiffer, burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuur, is die doel steeds om waterverbruik per dag tot 24 ML te beperk. “Die waterbeperkings is ‘n voorsorgmaatreël om so na as moontlik aan daardie doelwit te kom.”
JC McFarlane, raadslid vir die VF Plus, het op sy beurt gesê die munisipaliteit moet ook sy deel doen om watervermorsing te beperk deur aandag aan lekkasies te skenk. “Elke liter wat verlore gaan weens munisipale ondoeltreffendheid sal hierdie [poging om water te bespaar] ondermyn. Vinnige reaksiemeganismes moet in plek wees om infrastruktuurmislukkings te hanteer, veral tydens droogtetoestande.
“Ondersteuning vir waterbeperkings moet verstaan word as ‘n voorwaarde van die munisipaliteit om die herstel van waterlekkasies, infrastruktuurinstandhouding en aktiewe monitering van waterverliese te prioritiseer,” meen McFarlane.
John Andrews, PA-raadslid, het op die vergadering gevra hoekom beperkings eers in Maart ingestel word.
Sake en industrie sal duur betaal
Hoewel amptelike beperkings sedert die afgelope Sondag (1 Maart) van toepassing is, het die plaaslike munisipaliteit reeds in Januarie inwoners gemaan om water spaarsamig te gebruik, gegewe die lae damvlakke. Die burgemeester, Jeremy Fasser, het ook verduidelik waterbeperkings het finansiële gevolge vir inwoners.
Huishoudings sal nou, volgens die munisipale glyskaal, tussen R8,10 (van 0 tot 6 kl) en R235,26 (70 kl en meer) per kl betaal.
Onder die vlak 2-waterbeperkings sal ondernemings, die kommersiële en industriële sektor, wat die Universiteit Stellenbosch insluit, veral moet opdok, aangesien ‘n kiloliter nou R47,22 beloop, vergeleke met die gewone tarrief van R29,51.
Die munisipaliteit raai inwoners aan om van alternatiewe waterbronne soos reënwater en boorgate gebruik te maak. Diegene wat gebruik maak van boorgate en waterputte moet die alternatiewe waterbronne by die munisipaliteit registreer en die bronne met kennisgewings aandui. Besproeiing mag slegs voor 09:00 of na 18:00 vir ‘n uur op Dinsdae en Saterdae geskied.
• Besoek die munisipaliteit se webblad vir ‘n tabel met die aangepaste tarriewe, sowel as ‘n lys van waterbeperkingsvoorskrifte.




