Verskeie hoë profiel hofsake is eersdaags weer in die Stellenbosch-landdroshof.

Die plaaslike skoolgemeenskap is in rep in roer nadat ‘n skoolhoof verlede week in die Stellenbosch-landdroshof verskyn het in verband met beweerde seksuele aanranding.

Die skoolhoof het op Donderdag 29 Januarie in die hof verskyn na aanleiding van bewerings deur ‘n kollega. Die klaer voer aan die hoof het haar seksueel aangerand in Desember 2025 tydens die skool se jaareindbyeenkoms, wat by die skool gehou is.

By navraag het Millicent Merton, ‘n woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, bevestig ‘n interne ondersoek is ook van stapel gestuur na aanleiding van die bewerings.

Merton het gesê die beweerde voorval is op Vrydag 12 Desember 2025 aan die departement se direktoraat vir werknemersverhoudings gerapporteer. Sy het bygevoeg moontlike dissiplinêre aksie kan teen die skoolhoof geneem word afhangend van die ondersoek se uitslae.

Die ondersoek duur voort.

Intussen is die skool se adjunkhoof aan die stuur van sake sedert die begin van die nuwe skooljaar. Ouers is gesê die hoof is nie by die skool nie weens siekteverlof.

Dit blyk die plaaslike skoolgemeenskap is verdeeld oor die bewerings en vele ouers en inwoners het hul kommentaar wyd en syd op sosiale media gelig.

Tydens verlede week se hofverskyning het die onderwyser aangedui hy sal van ‘n nuwe regspan gebruik maak. Die saak is dus tot Donderdag 26 Februarie uitgestel wanneer die hoof se nuwe regsverteenwoordiger na verwagting op die rekord vir hom sal kom.

Die hoof is tans uit op borgtog en is deur die hof gemaan om geen kontak met die klaer te hê nie. As deel van sy borgtogvoorwaardes mag hy nie haar eiendom of huis betree nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article