Geen berou en geen genade, daarom sal Solomzi Bakubaku (31) en Shane Smith lewenslank agter tralies moet bly vir die moord op Cheney Prins (23) in Februarie 2020.

Die twee mans van Khayamandi is in die hooggeregshof aan Prins se moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer, sowel as regsverydeling skuldig bevind.

Prins se dood kom nadat sy inligting aan die polisie verskaf het oor ‘n gesteelde voertuig. Bakubaku, Prins se kêrel, was betrokke by die diefstal en hy het haar op Januarie 2020 met ‘n panga te lyf gegaan nadat hy gehoor het sy het met die polisie gepraat.

Prins het ‘n klagte teen haar kêrel aangemeld, maar is ‘n maand later deur Smith na Bakubaku se woning gelok, waar hy haar met ‘n gordel doodgewurg het. Dit was op 10 Febuarie 2020.

Die mans het Prins se liggaam in ‘n munisipale drom gedruk en haar in ‘n drein gegooi, waar hulle haar aan die brand gesteek het.

Waarnemende regter Pinda Njokweni het beaam dat Prins ‘n jong ma in die fleur van haar lewe was. Hy het Prins se besluit om inligting aan die polisie te verskaf, as dapper beskryf.

Die hof het bevind Prins se lyk was so erg geskend nadat die mans haar liggaam gebrand het, dat DNS-toetse gebruik moes word om haar te identifiseer.

In sy uitspraak het Njokweni gesê Bakubaku en Smith se grudade bewys hulle het geen respek vir wette of lewens nie. “Die oorledene het haar huis in Delft verlaat en op soek na ‘n beter lewe na Khayamandi gekom, maar al wat sy gevind het, was haar dood,” het hy gesê.

“Die skuldiges het geen genade aan [Prins] of haar kind betoon nie. Hulle het die geleentheid gehad om rou te betoon aan die oorledene se ma. Hulle het met strak gesigte geweier.”

Nie Bakubaku of Smith het getuienis gelewer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article