“Jy sal nooit toelaat dat jou kind met ‘n vreemdeling op straat praat nie; hoekom laat ons dit dan toe wanneer dit aanlyn gebeur?”
Jongmense en hul aanlyn gedrag was Vrydag 7 November die fokus van A21 en plaaslike rolspelers se paneelbespreking in die lig van mensehandel. A21 is ‘n internasionale organisasie wat bewusmaking om mensehandel skep en diegene help wat uit die misdryf ontsnap het.
Volgens Melissa Visser, ‘n plaaslike koördineerder vir A21, gebeur dit te gereeld dat ouers nie bewus is van wat hul kinders aanlyn doen nie.
“Baie keer dink mense hulle moet op hul hoede wees vir wat hul tieners aanlyn doen, maar die werklikheid is kinders so jonk as drie jaar speel en gebruik die internet,” verduidelik Visser.

KWAADDOENERS STEL LOKVALLE
In studies is bevind jongmense bring tot nege uur per dag aanlyn deur. Dit los die deur oop vir sekspeste om maklik en vinnig met kinders ‘n band te vorm.
Volgens A21 gebruik sekspeste alle sosialemediaplatfroms – van WhatsApp tot aanlyn speletjies – om “vriende te maak”. “Sextortion” het die afgelope paar jaar ‘n algemene misdryf geword.
Kwaaddoeners “maak vriende” met kinders aanlyn en nadat hulle met die kinders vertroue opgebou het, raak die gesels al hoe meer intiem.
Die kwaaddoeners oorreed die kinders om naakfoto’s van hulself te stuur en omdat kinders meen hulle praat met iemand van hul eie ouderdom, ‘n “vriend”, stuur hulle die foto’s.
Nadat hulle die foto’s ontvang het, eis die kwaaddoeners geld en dreig om andersins die foto vir die slagoffers se ouers of vriende te stuur. Veral seuns word glo met die lokval uitgebuit.
‘OP SOEK NA VRIENDSKAP’
Volgens Carien de Klerk van Good Hope-sielkundige dienste is alle kinders kwesbaar vir aanlyn lokvalle juis omdat jongmense op soek is na vriendskap en ‘n groep om aan te behoort. “Ouers moenie dink omdat hulle ‘n ‘gelukkige’ gesin is, so iets nie met hulle kan gebeur nie.”
De Klerk, wie se organisasie in Paarl en Stellenbosch werk, sê wanneer ‘n jongmens afgepers word, gebruik die kwaaddoeners skaamte om ‘n greep op die kinders te hou.
Le-Anne Simon van StellCare sê daarom is bewusmaking die grootste teenwig vir aanlyn-misdrywe. “Hierdie misdrywe gebeur hier in Stellenbosch. Ons as ouers het ‘n verantwoordelikheid om onsself met inligting te bemagtig. Ons moet met die kinders praat en ‘n veilige ruimte vir hulle skep,” sê Simon.
Volgens Madri Schuch van die Helderbergse organisasie Youth4Life, is die werklikheid dat indien ouers nie inligting oor hul kinders verskaf nie, jongmense dit op ‘n ander plek gaan soek.
- Enigeen wat meer wil weet oor aanlyn-veiligheid kan A21.org besoek.






You must be logged in to post a comment.