Ek wil graag my mening gee oor die Universiteit Stellenbosch (US) se dramadepartement, wat onlangs ‘n opvoering by die Adam Small-teater aangebied het. Ek wil graag hoor wat ander dink.

Gewoonlik begin ‘n mens by die begin, maar nadat ek Hamlets (opgevoer deur US-dramastudente) gesien het, wil ek by die einde begin. Ek sit nog en wonder – wat het hulle eintlik vir ons probeer sê? Ironies genoeg, want daar was min dialoog in die stuk, maar soveel is tog “gesê”.

Die woorde wat wél gespreek is, was regtig kragtig – presies op die regte tyd en saam met bewegings en lyftaal, wat dit nog ‘n groter impak gegee het. Jy kan sien die blocking het baie tyd en aandag gekry.

Die dekor was minimaal, maar ek dink steeds terug aan hoe dit die storielyn aangevul het – progressie; sosiale druk… en die beeld wat ons aan die wêreld uitstraal.

Wat my ook getref het, is dat hierdie stuk nie net vir een gene- rasie geskryf is nie, maar vir almal. As jy ‘n foon het; as jy ‘n allerdaagse mens is; as jy met mense kontak het; dan kan jy jouself indink in die gehoor wat hierdie produksie moet bywoon.

Ek wil wel eindig by die einde. Dit was een goeie einde. Ek dink sewe dae later steeds aan die einde.

Oud-Matie Adél, STELLENBOSCH

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article