’n Historiese oomblik het Saterdag 1 November in die Athlone-stadion afgespeel toe duisende mans van oor die Kaapse Vlakte en omliggende gebiede heen vir die Mighty Men Cape Flats-geleentheid opgedaag het — ’n dag van gebed, lofprysing en herstel. Die byeenkoms, gereël deur Radio Tygerberg 104FM, was ’n kragtige herinnering dat God steeds werk in die hart van mans in Suid-Afrika.
Getuienisse van herstel en hoop
Een van die aangrypende oomblikke van die dag was toe Ivor Swartz sy roerende getuienis gedeel het. Hy het in armoede sonder ’n pa grootgeword, by die berugte 26’s-bende betrokke geraak, en is uiteindelik tronk toe omdat hy sy broer vermoor het. In die tronk het sy lewe handomkeer verander. Vandag reis hy rond om by geleenthede mans aan te moedig om hul identiteit in God te vind.
Die bekende Johnny Davids, aanbieder op SuperSport, het sy storie gedeel van hoe hy bo mishandeling, armoede en geweldige teenstand uitgestyg het tot die sukses wat hy vandag in sy lewe smaak. Hy het getuig dat God hom vrygemaak het sodat hy sonder vrees en wanhoop kan leef — ’n boodskap wat duisende mans diep geraak het.

‘n Boodskap van leierskap en restourasie
Die hoogtepunt van die dag was toe Angus Buchan die skare toegespreek het. Mans en kinders het hom letterlik om die nek geval toe hy en die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, die skare voor die verhoog gaan groet het. Hy het ook van die geleentheid gebruik gemaak om vir Hill-Lewis, as leier van Kaapstad, te bid in ‘n roerende oomblik op die verhoog.
Met sy kenmerkende passie het hy mans aangemoedig om hul plek in hul huis en gemeenskap in te neem — om geestelike leiers te wees, hul gesinne te beskerm, en ’n nuwe generasie in geloof groot te maak. Sy oproep tot bekering en gebed het die stadion met ’n atmosfeer van eerbied en hoop gevul.
Lofprysing wat die hemel aangeraak het
Aanbidding is kragtig gelei deur Neville D, Grammy-genomineerde musikant en aanbieder van Radio Tygerberg se Real Brekfis-program. Neville, wat self op die Kaapse Vlakte grootgeword het, het die gehoor herinner aan die krag van lofprysing en dankbaarheid — ongeag omstandighede. Hy is vergesel deur ’n manskoor wat die stadion gevul het met liedere van geloof en oorwinning.

‘n Beweging wat voortduur
“Mighty Men Cape Flats was meer as net ’n byeenkoms. Dit is ’n beweging van hoop. Ons kon nie langer staan en toekyk hoe geweld op die Kaapse Vlakte daagliks lewens eis nie. Vandag het ons gesien hoe harte aangeraak word, lewens verander en gemeenskappe versterk word. Dit is slegs die begin van iets groots,” sê Hardus Zevenster, uitvoerende beampte van die Bloudruk Groep, waarvan Radio Tygerberg deel is.








You must be logged in to post a comment.