Weslander

Drie Kaapse mans in Vredenburg betrap met ongelisensieerde vuurwapens

Misdaad | Crime
Misdaad | Crime

VREDENBURG – Drie mans van Kaapstad het Dinsdag 17 Februarie in die Vredenburg-landdroshof verskyn nadat hulle Sondagmiddag in hegtenis geneem is met twee ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie in hul besit.

Volgens kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie, is Ndiphenkosi Qondani (45), Bongile Mhlolo (46) en Sive Salmane (25) in hegtenis geneem nadat lede van Vredenburg-polisie se misdaadvoorkomingseenheid op Sondag 15 Februarie omstreeks 16:00 ’n silwer Suzuki-motor in Vredenburg opgemerk het wat oor ’n rooi verkeerslig ry.

Die voertuig is agtervolg en afgetrek.

Volgens inligting het die bestuurder uit die Suzuki geklim toe ’n polisielid die voertuig nader.

Die polisielid het ’n vuurwapen op die sitplek van die voertuig opgemerk en sy kollegas gewaarsku, waarna versterking ontbied is.

Nog ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie. Foto: SAPD Credit: Picasa

Daar is ook vasgestel dat die voertuig geen nommerplate op het nie. Een van die passasiers het glo probeer om ’n voorwerp onder ’n sitplek weg te steek en is beveel om nie te beweeg nie.

Met die aankoms van versterkingslede is die twee passasiers beveel om uit die voertuig te klim. Tydens ’n deursoeking van die voertuig is twee ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie gevind. Nommerplate en balaklawas is ook agter in die voertuig aangetref.

Die bestuurder het volgens inligting wel ’n geldige lisensie vir sý vuurwapen gehad.

Al drie mans is in hegtenis geneem en staan tereg op aanklagte wat met die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie verband hou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article