Reeksvoorbladbanner met teks oor outisme in die Helderberg, gepubliseer deur DistrikPos en Helderberg Gazette.
LEWE MET OUTISME IN DIE HELDERBERG, ‘n vyf weke reeks deur DistriksPos & Helderberg Gazette

Outisme in die Helderberg-reeks – Week 1: Verstaan outisme

Reeksvoorbladbanner met teks oor outisme in die Helderberg, gepubliseer deur DistrikPos en Helderberg Gazette.
LEWE MET OUTISME IN DIE HELDERBERG, ‘n vyf weke reeks deur DistriksPos & Helderberg Gazette

Van Strand tot Somerset-Wes leef gesinne met ‘n realiteit wat baie nie ten volle verstaan nie – die lewe met outisme.

DistriksPos en Helderberg Gazette sal in April – Outisme-bewustheidsmaand – hierdie gesinne en families se stories van uitdaging, hoop en triomf vertel.

Maar om werklik te verstaan wat hierdie mense ervaar, moet ons eers verstaan wat outisme is…

Wat is outisme?

Ziyanda Runu-Giyama, ‘n maatskaplike werk-koördineerder vir Outisme Wes-Kaap (AWC), verduidelik outisme is ‘n lewenslange ontwikkelingsgestremdheid wat die manier waarop mense die wêreld ervaar, beïnvloed.

“Dit raak hoe iemand op stimuli soos klank, lig, aanraking, ruimte, reuk en smaak in hul omgewing reageer,” sê sy.

“Outisme staan ook bekend as ‘n sosialekommunikasieversteuring en beïnvloed vier hoofafdelings van ontwikkeling – taal en kommunikasie, gedrag en denke, sosiale interaksie en sensoriese verwerking.”

AWC is ‘n organisasie sonder winsoogmerk wat meer as 5 000 individue met outisme in die Wes-Kaap bedien. Hul doel is om ‘n samelewing te skep wat individue met outisme aanvaar en insluit.

“Outisme is deel van wie so iemand is,” beklemtoon Runu-Giyama.

Om die outisme weg te neem, is om so iemand weg te neem. Die vlak van ondersteuningsbehoeftes wissel van mens tot mens en geen twee mense met outisme is dieselfde nie.

Die outismespektrum

Hierdie verskillende ondersteuningsbehoeftes vorm wat bekend staan as die outismespektrum – drie vlakke, wat die intensiteit van ondersteuning aandui wat só iemand benodig:

Diagram wat die drie vlakke van die outismespektrum en hul ondersteuningsbehoeftes toon.
Diagram: Outismespektrum vlakke 1, 2 en 3 met die onderskeie ondersteuningsbehoeftes.

Vroeë waarskuwingstekens

Tekens van outisme kan reeds van driejarige ouderdom af herken word. Runu-Giyama het die volgende vroeëwaarskuwingstekens uitgelig, wat op die moontlike behoefte aan professionele evaluering dui:

  • Maak nie oogkontak nie, glimlag nie terug wanneer geglimlag word nie, reik nie uit om opgetel te word nie en speel nie met ander nie.
  • Reageer nie op hul naam nie, gebruik nie gebare soos waai of wys nie, maak nie geluide om aandag te trek nie en vra nie vir hulp nie.
  • Volg nie voorwerpe visueel nie en boots nie bewegings of gesigsuitdrukkings na nie.

Vir Rahkeenah Peters van Strand was hierdie tekens aanvanklik nie duidelik nie. Sy erken sy was heeltemal onbewus van hierdie tekens totdat dit haar werklikheid geword het toe outisme op driejarige ouderdom by haar dogter, Yasmeen, gediagnoseer is.

Opvoeding en ondersteuning

Sodra outisme gediagnoseer is, word opvoeding een van die grootste uitdagings. Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement bied verskillende vlakke van ondersteuning aan leerders op die outismespektrum, maar toegang bly ingewikkeld.

Sommige ouers, soos dié van Reece Meyer (14), moes hard veg vir hul kind se reg op geskikte onderwys. Ander, soos Rahkeenah, hanteer tans die uitdagings van skoolplasing vir haar sesjarige dogter.

Reece Meyer (14) met sy ma Megan wat geveg het vir sy reg op geskikte onderwys.

Volwassenheid en onafhanklikheid

Soos kinders met outisme grootword, word die vraag na onafhanklikheid toenemend belangrik. In die Helderberg bewys families dat dit moontlik is.

Joshua Sandy (19) met sy ma Sandy wat Be My Voice One Cookie at a Time gestig het om onafhanklikheid te bevorder.

Joshua Sandy (19) is ‘n perfekte voorbeeld. Sy ma, Sandy Pekeur-Sandy, het nie net ‘n liefdadigheidsorganisasie ter ere van hom gestig nie, maar ook ‘n besigheid, “Be My Voice One Cookie at a Time,” begin.

Gemeenskapsondersteuning

Die sleutel tot sukses lê in gemeenskapsondersteuning. Organisasies soos AWC, Be My Voice One Cookie at a Time, en die Autism Parents Support Group maak ‘n werklike verskil.

Lede van die Autism Parents Support Group wat ander ouers help verstaan wat outisme behels.
Die Autism Parents Support Group se lede (van links) Lana Newman, Megan Meyer, Rahkeenah Peters, Aqeela Beckett, Mymoena Fanie en Soraya Canterbury help ander ouers verstaan wat outisme behels. Foto: Barend Williams

Vandag (Woensdag 2 April), ter ere van Wêreld Outisme-dag en Joshua se verjaardag, pak sy organisasie 2 000 koekies om bewustheid en vriendelikheid te versprei.

Die Autism Parents Support Group, gestig deur Rahkeenah, bied ‘n belangrike ondersteuningsnetwerk aan. Saterdag 25 April hou hulle ‘n spesiale dag vir families.

Provinsiale ondersteuning

Die Helderberg is deel van ‘n groter provinsiale poging. Die Wes-Kaapse departement maatskaplike ontwikkeling het R60 miljoen toegeken aan maatskaplike dienste vir mense met gestremdhede, insluitend outisme.

“Gedurende Outisme-bewustheidsmaand moedig ons mense aan om bereid te wees om te luister en opgevoed te word,” sê Monique Mortlock-Malgas, departementele woordvoerder.

Uitdagings bly

Ten spyte van hierdie ondersteuning, bly daar uitdagings. AWC rapporteer dat families in die Helderberg sukkel met skooltoegang en verhoogde armoede omdat ouers nie kan werk nie.

Wanopvattings – soos dat outisme beteken iemand is “stadig” of dat dit “geneesbaar” is – vererger hierdie uitdagings.

Maar families oorkom hierdie struikelblokke danksy mekaar en gemeenskapsondersteuning.

Outisme Wes-Kaap: Besoek die Facebook-blad vir opleiding en geleenthede: https://www.facebook.com/AutismWC
Autism Parents Support Group: Bel Rahkeenah Peters (073 879 5807) of Megan Meyer (084 810 3878)
Be My Voice One Cookie at a Time: Bel Sandy Pekeur-Sandy (076 325 3041)

Volgende week: Rahkeenah Peters deel haar familie se reis van diagnose tot aanvaarding – die vroeë jare van lewe met outisme.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article