Die Strand-polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord ná ‘n skietery op ‘n 18-jarige man in Rusthof, Strand, verlede Maandag (11 Augustus).
Volgens ‘n polisieverslag is ‘n beampte om 21:15 na die toneel op die hoek van 8ste Straat en Mbadu-laan ontbied.
Die polisiebeampte het met sy aankoms die slagoffer, wat in die maag gewond is, op die grond aangetref.
Nooddienste het op die toneel reageer en die slagoffer na ‘n plaaslike hospitaal vervoer.
‘n Ooggetuie beweer die skietery het plaasgevind nadat ‘n wit Volkswagen Polo-sedan met twee insittendes by die toneel verbygery het. ‘n Gewapende passasier het glo die venster oopgemaak en op die slagoffer losgebrand.
Geen verdagtes is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.




