Woordfees vermaakprogram
Vusi Mahlasela en vele ander musikante is op die Toyota-musiekfees-program.

Toyota-musiekfees beloof ‘n program vol jazz, rock en feesvreugde


Om 50 studente in ‘n Volkswagen Beetle te druk, was dalk jare gelede ‘n groot uitdaging. Maar laat ‘n mens maar sê: Dis ‘n makliker taak as om die byna 50 musiekproduksies van die ­Toyota-­

musiekfees by vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees in een asem te probeer noem.

Die gewilde opelugkonserte by die Jan Marais-park in Stellenbosch bring families en feesmaats onder die sterrehemel bymekaar. Zaan Sonnekus en Tashé met Sossi, Booshle G. met Tatum Tides, Spoegwolf met Van Der Aven en Jeremy Loops met Tessi Nandi bring van Woensdag 7 tot Saterdag 10 Oktober die vibes en die klank. Die hekke maak om 17:00 oop – kom vroeg en kuier saam.

Jazz-liefhebbers kan weer uitsien na ‘n vol jazz-program by die Konserve-program by die buitelug-amfiteater van die Universiteit Stellenbosch Konservatorium. Dis die tuiste van ‘n reeks musiekkonserte waar bekende jazzmusikante soos Buddy Wells, die Ramon Alexander-trio, Sibabalwe Gobe-Gysman, Melisizwe Plaatjie, Heinrich Frans en die Andrew Ford-trio sal optree.

Net daarna volg die Afterpaartie-program, wat deur Schalk Joubert saamgestel word. Hy bring van sy vriende en beste musici in die land bymekaar. Dis die perfekte laatnagkuierplek om ná die dag se vol program te kom litte losmaak of te ontspan.

Die Albert Frost-trio, die Papier Family Band, Nick Turner, die Robin Auld-trio en die World Peace-ensemble is van die sterre op Schalk se sterbelaaide program.

Amanda Strydom vier haar 70ste (ja, kan jy glo!) saam met die Kaapstad Filharmoniese Orkes in ‘n vertoning wat een vir die boeke gaan wees met Sewentig, nog lewendig op Dinsdag 6 Oktober om 19:00.

Anton Goosen dien alle gerugte van oud en koud die nekslag toe met Magtig, kyk wie’s 80. Hy bring sy vriende soos Coe­nie de Villiers, Schalk Joubert, Churchil Naude, Akkedis, Lize Swart, Loukmaan Adams en vele meer na die jolige partytjie op 7 Oktober om 19:00.

Vusi Mahlasela, Jak de Priester, Glaskas, Joshua na die reën, Elvis Blue, Coffee Snobs, Karin Hougaard, Koos van der Merwe, Bianca Flanders en Dean Balie in Prima!, en vele meer is op die Toyota-­musiekfees-program.

Kaartjies verkoop só goed – selfs ekstra vertonings is geskeduleer vir Stille vuur met Coenie de Villiers, Deon Meyer, Mauritz Lotz en Frieda van den Heever op Maandag 4 Oktober om 18:30 en Plektrum met Mauritz Lotz op Saterdag 3 Oktober om 11:00.

Ná drie jaar is Jan Blohm op 3 Oktober om 20:00 weer terug by die Daisy Jones-teater, en hierdie keer bring hy die hele band saam vir ‘n volbloed- rock show.

Louis Mhlanga, ‘n reus van die Afrika-­kitaar – bygestaan deur ‘n vol band – is vir slegs een aand op 7 Okotber by die Daisy Jones-teater om 20:00 deel die Toyota Stellenbosch Woordfees.

  • Die Toyota Stellenbosch Woordfees duur van 3 tot 11 Oktober. Die volledige program is op www.woordfees.co.za.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article