‘n Strand-familie is in diep rou gedompel nadat ‘n geliefde ma, ouma en suster in ‘n verwoestende brand in Broadlandspark dood is.
Dié tragiese voorval het Sondagaand (8 Februarie) in Daisy-pad gebeur.
Volgens Jermaine Carelse, ‘n woordvoerder vir die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdienste, het brandweerspanne van Strand, Macassar en Brackenfell omstreeks 18:00 op die voorval reageer nadat verslae ontvang is van twee wonings wat in vlamme uitgebars het.
“Brandbestryders het die brand, wat twee formele en twee informele strukture vernietig het, omstreeks 20:15 geblus. Tragies het ‘n volwasse vrou noodlottige brandwonde opgedoen en sy is op die toneel dood verklaar. ‘n Volwasse man en minderjarige seun is deur nooddienspersoneel vir brandwonde behandel,” het Carelse gesê.

Strand-polisie het bevestig dat ‘n geregtelike doodsondersoek geopen is ná die voorval.
‘n Naasbestaande, Theresa Pietersen (54) van Casablanca, het die verlies van haar suster, Catherine Smith (56), as onbeskryflik en traumaties beskryf.
Pietersen het genoem dat hulle hul oudste suster sowat ses maande gelede weens siekte verloor het, en nou het sy ook Smith verloor, wat op 21 Februarie haar verjaardag sou gevier het. “Ons het nog nie eens oor die een verlies gekom nie en nog een staar ons in die gesig,” sê Pietersen.
Sy vertel dat ‘n vriendin, wat in dieselfde straat woon, haar met die nuus gebel het dat haar suster se plek in vlamme verswelg word en hulle haar nie kan opspoor nie. Pietersen en haar jonger suster (48) het hulle onmiddellik na die toneel gehaas. “Met ons aankoms was alles tot op die grond afgebrand. ‘n Polisieband was gespan. Ons kon slegs hulpeloos toekyk. Een van my oorlede suster se drie dogters het aan ons gesê hulle dink dit is sy wat in die brand dood is,” vertel sy.
Volgens Pietersen was Smith ‘n hardwerkende ma van drie wat lief was vir mense. Sy koester ewige herinneringe van haar daarwees as suster.





You must be logged in to post a comment.