Die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het die afgelope Donderdag (26 Maart) in hul eerste veldtog teen geslagsgeweld (GBG) saamgestaan om hierdie probleem in Morkel’s Cottage en Allan Boesak Village te bekamp.
Die veldtog is in vennootskap met die Strand-polisiekantoor gehou. GPF-lede, lede van verskeie veiligheidsmaatskappye en die Gemeenskapslede in Blou het saam met polisielede en slagofferondersteuningskamer-vrywilligers deelgeneem.

Die deelnemers het 250 pamflette oor gesinsgeweld versprei. Hulle het ook diepgaande gesprekke met gemeenskapslede gevoer. Lillian Albertyn, die waarnemende voorsitter van die Strand GPF, het verduidelik die veldtog was nodig weens die hoë volume gesinsgeweld in al twee gebiede.
Die GPF beplan om maandeliks soortgelyke veldtogte in verskeie Strand-gebiede as deel van hul verpligte bewustheidsprogramme aan te bied.




