Die Gustrouw-sportterrein in Strand het verlede Woensdag (23 Augustus) in ’n oorlogsone ontaard toe ’n vermeende bendeverwante skietvoorval tydens ’n rugbykragmeting tussen twee skolespanne uitgebreek het.
Verskeie bendelede het na bewering na die sportveld opgeruk en die wedstryd tot stilstand laat ruk toe hulle in ’n skynbare skietgeveg op mekaar losgebrand het.
Die Strand Sekondêre Skool (SS) het kort ná die voorval sy misnoeë oor die skietery uitgespreek en dit bestempel as ’n traumatiese demper op ’n geleentheid, wat veronderstel was om sportmangees en kameraadskap onder jong seuns, wat hul tyd konstruktief tot sport bydra, te bevorder.
“Terwyl ons o.19-rugbyspan teen Rusthof Sekondêr gespeel het, het bendes die gemeenskapsbou-saamtrek betree en die veld vir hul wettelose gedrag gebruik. Ons leerders se veiligheid is nie in ag geneem toe die bendelede skote begin afvuur nie en gedink het hul gedrag was ‘cool’ en aanvaarbaar,” lui ’n plasing, wat kort ná die skietery op die SS se Facebook-blad gedeel is.
Die SS-hoof, Liezl Terhoeven, het die voorval bevestig, maar wou nie verder uitbrei oor wat gebeur het nie. “Die kinders (leerders) was baie ontsteld,” het sy bygevoeg.
AO Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het bevestig geen klagtes is ná die skietery by die polisie aangemeld nie.
Niklaas Thysen, voorsitter vir die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het die voorval betreur.
“Die veiligheid van ons gemeenskap en leerders wat hul sport gedurende ’n skool-aktiwiteit beoefen, is belangrik. Leerders moet veilig voel sonder enige vorm van bendeverwante voorvalle of dreigemente wat hul lewe nadelig kan beïnvloed,” sê Thysen.
Hy sê die GPF sal in samewerking met plaaslike skole verseker dat veiligheid-noodplanne ingestel word en die polisie meer sigbaar by sportaktiwiteite sal wees.
“Ons is dankbaar dat geen leerders in die skietery beseer is nie,” voeg hy by.
Terhoeven sê die skool beweeg nou positief vorentoe en sien uit na hierdie Saterdag (2 September) se jaarlikse interskole teen die Hoërskool Gordon.

