Die identiteit van die man wie se liggaam verlede week uit die see by Strand gehaal is, is steeds onbekend.
Dit is volgens die Strand-polisie en volg ’n week nadat owerhede op die vermeende verdrinking gereageer het.
Die Stad Kaapstad se waterreddingsnetwerk is tot aksie geroep toe die liggaam verlede Dinsdagmiddag (22 Februarie) by die Strand-paviljoen in die water gedryf het.
DistriksPos het oor die voorval berig (“Liggaam spoel uit,” Donderdag 24 Februarie) wat gevolg is deur twee amperse verdrinkings die afgelope Sondag (27 Februarie).
Volgens Alan Meiklejohn, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Gordonsbaai, het hul noodsentrum Sondag om 15:55 ’n vrou, wat byna by die hoofstrand in Kusweg verdrink het, waargeneem.
“Strand-menseredders was op die toneel en is deur die Stad Kaapstad se brandweer- en reddingsdienste en die provinsiale regering se mediese nooddienste ondersteun.
“ ’n Volwasse vrou is op die toneel behandel,” het Meiklejohn gesê.
Terselfdertyd is paramedici van GB Med Rescue en ER24-ambulansdienste na die Strand Surf Lifesaving-klub ontbied waar menseredders kardiopulmonêre resussitasie op ’n onbekende volwasse man ná die redding toegepas het.
“Gevorderde lewensondersteuning is deur paramedici toegedien en die pasiënt is in ’n kritieke toestand per ER24-ambulans na ’n plaaslike hospitaal vervoer.”
In ’n afsonderlike voorval om 13:11 dieselfde dag (Sondag), het NSRI-reddingspanne die seereddingstuig Spirit of Surfski te water gelaat om vyf plaaslike mans aan boord van ’n vyf meter lange vaartuig, wat enjinprobleme naby die kus by Harbour Island ervaar het, te hulp te snel.
“Ons het die skipper versoek om anker te gooi en met ons aankoms op die toneel het ons hulle onder sleeptou geneem en die boot sonder voorval by Harbour Island ingesleep,” het Meikeljohn gesê.
“Ons het hulle gehelp om hul vaartuig op ’n sleepwa te kry en geen verdere hulp was nodig nie.”


