Mia-Miri (5) omring deur teddiebeertjies wat Strand-gemeenskap vir kinders met kanker geskenk het
Mia-Miri Wessels (5) tussen die teddiebeertjies wat die Strand-gemeenskap vir kinders met kanker geskenk het.

Terwyl kinders met kanker deur harde tye gaan, bring die Strand Patrol-buurtwag sagtheid in die vorm van teddiebeertjies.

KC Gericke, die voorsitter van die buurtwag, sê die inspirasie agter die skenking is die vyfjarige Mia-Miri Wessels, by wie leukemie verlede jaar gediagnoseer is.

Ná ‘n gesprek met Mia-Miri se ma, Amarynka, het Gericke uitgevind dat die meisietjie wou graag speelgoed vir ander kinders in die hospitaal gee.

Mia-Miri Wessels (5) glimlag terwyl sy teen leukemie veg.
Die “klein skerpioen” Mia-Miri Wessels (5) stry haar stryd teen leukemie met ‘n glimlag.

Dit het die buurtwag geïnspireer om teddiebeertjies te begin versamel. Gericke verduidelik die rede vir beertjies is tweevoudig – eerstens gee die kosbare gesiggies kinders ‘n gevoel van gemak en ‘n vriend om mee saam te wees en tweedens wys die sagtheid van die teddiebeertjie dat daar nog sagtheid in die wêreld is.

Gericke sê die lewe van volwassenes is moeilik en hy wou hê die kinders moet vasklou aan [die beertjies se] sagtheid sodat hulle kan sien daar is nog mense wat omgee. Die insameling was eenvoudig, dog doeltreffend.

Die buurtwag het net aangekondig dat hulle teddiebeertjies versamel en die gemeenskap het ingespring. Een inwoner het selfs ‘n koerier gekry om ‘n boks vol beertjies af te haal. Gericke vertel dat hulle uiteindelik sowat 120 teddiebeertjies ingesamel het.

Die buurtwag het die teddiebeertjies op Saterdag 10 Januarie persoonlik by die Wessels-gesin afgelewer, saam met sjokolade vir mamma en droëwors vir pappa Stephan – ‘n gebaar wat wys dat hierdie inisiatief oor meer as net speelgoed gaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article